Die YearBeyond-program het hierdie jaar die eerste keer ’n ICT-YeBoneers-kadetprogram, waar gekeurde jeugdiges veral biblioteekgebruikers met rekenaarkundigheid bygestaan het, aangebied.
Curtley Fortuin en Cullen King, wat as deel van dié program in Caledon gewerk het, het Woensdag 30 November saam met die res van die YeBoneers gegradueer. ’n Klinkklare bewys van hoe doeltreffend die program is, is die feit dat Fortuin en King werksaanbiedinge gekry het en reeds die dag ná die gradeplegtigheid by hul onderskeie werkgewers ingeval het. Fortuin het ’n aanbod van ’n plaaslike maatskappy gekry en King het as deel van die EPWP (Extended Public Works Programme) by die Caledon-brandweerstasie begin.
Hermanus Times het met dié twee jong mans gesels om te hoor hoe die ICT-program hulle gehelp het. Fortuin sê: “Dit het my definitief uithouvermoë asook kreatiewe denke geleer. Ek het gereeld by funksies uitgehelp waar daar soms baie uitdagings was, en dit het my geleer om kreatief te wees in sekere situasies, soos wanneer ’n skootrekenaar of die klankstelsel skielik nie werk nie. Dit het my baie meer selfvertroue gegee en gewis deure vir my oopgemaak.”
King sê: “Die program het my geleer hoe om met mense te werk, om onder druk te werk, hoe om sekere situasies te hanteer en om my emosies te beheer. Dit het my definitief op my nuwe werksgeleentheid voorberei.”