Oor net ’n paar weke is dit weer tyd vir die jaarlikse Hermanus-Kalfiefees.

Dié jaar se produksies is iets om na uit te sien: Musiek uit die boonste rakke, drama wat jou na jou asem sal laat snak en komedie wat jou sal laat skaterlag. Die Kalfiefees vind die jaar van 8-13 Augustus plaas en gaan soos die vorige jare besoekers van oor die land heen lok. Seker een van die gewildste produksies, wat dié jaar by die Kalfiefees-Vrouedag gaan wees, Die Oerkluts Kwyt met teks deur Antjie Krog en aangebied deur Antoinette Kellermann en die Ancient Voices, beloof om een van die hoogtepunte van die fees te wees.

Krog en Kellermann het in 2022 albei 70 geword. Kom vier dié dubbele mylpaal saam met hulle en luister hoe Antoinette, Antjie se onsterflike woorde – deurdrenk in eerlikheid, erns, ironie, liefde en al die “hot flushes” en “cold turkeys” tussenin – vertolk. “Die jonger mense wat deel is van Die Oerkluts Kwyt, wat elkeen ’n uitsonder­like oor vir gevoel en ritme het, was soos ’n veilige vangnet wat my kon toelaat om my ten volle oor te gee aan die digter se beeldskone taal en die musiek van haar woorde,” aldus Kellermann. Die produksie vind op 9 Augustus in die Ouditorium plaas.

 ’n Ander produksie wat jou sal laat skaterlag is Liewe Heksie vang vis. Ons almal se geliefde Liewe Heksie is terug. Dié keer span sy haar besem in as ’n visstok, maar dit sukkel maar om ’n vis te laat byt. Sy raak vreeslik opgewonde as sy wel daarin slaag: “Haai oe, dis vir my so lekker as ek ’n vis vang. Dan sing ek sommer ’n liedjie en die vis wil saam sing. Ek weet, want sy bek gaan so oop en toe. Of dalk gaap hy, omdat hy moeg is, dan gooi ek hom terug en vang ’n nuwe ene.” Maar hoekom raak Koning Rosekrans se forelle dan minder? Is Levinia die skuldige of is die nare Geelheks ook weer in die prentjie? 

Verna Vels se immergroen verhale kry lewe met baie gehoordeelname en voortsnellende aksie. Margit Meyer-Rödenbeck is Heksie en die uiters talentvolle Deon van Zyl draf die rolle van Karel Kat, die Geelheks en Koning Rosekrans lag-lag kaf. Kaartjies is beskikbaar by Computicket of Checkers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article