Die Hermanus Times-Kalfiefees is elke jaar ’n hoogtepunt op menige se kalender.

Vanjaar gaan dit weer eens nie teleurstel nie, en dié fees, wat van 4 tot 9 Augustus aangebied word, pronk weer met ’n keur van produksies van hoogstaande gehalte – van sangers soos Koos Kombuis, Arno Carstens en Amanda Strydom tot kunste­naars soos Frank Opperman, Sandra Prinsloo en baie meer.

’n Hoogtepunt is seker Spertyd deur Elsa Joubert: Spertyd is ’n reis deur die “vasteland van ouderdom”. Die bekroonde aktrise Sandra Prinsloo is in die produksie te sien, en is na net een speelvak van die stuk met ’n Fiësta-prys as beste aktrise benoem. “My lewe is nou ’n doodloopstraat. My dogter sê: Ma, ’n mens bly nooit in ’n doodloopstraat nie. Jy draai om, ry terug en kry ’n nuwe koers.”

Die bekroonde Joubert skryf eerlik en onsentimenteel oor die oudwordproses. Prinsloo volg haar vorige, kragtige eenvrouvertonings (Kamphoer, Oskar en die pienk tannie en Die Naaimasjien) op met hierdie werk wat ontroer en inspireer, maar ook vertroos.

Joubert is op 14 Junie 2020 midde-in die Covid-19-pandemie oorlede. Kort voor haar afsterwe het sy nog die teksverwerking gelees en was opgewonde oor Prinsloo se vertolking daarvan. Die karakter kyk op 95-jarige ouderdom as weduwee in ’n aftreeoord terug op haar vol lewe, kinderjare en huwelik.

Dit bring ’n helder insig in hierdie merkwaardige skrywer se lewensbeskouing en dit nooi jou om diep oor jou bestaan na te dink.

Die produksie is Saterdag 6 Augustus te sien. Besoek die Kalfiefees-Facebookblad vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article