Hy is ’n kampvegter vir voedselsekerheid en loop letterlik die ekstra myl vir boere – bruin, swart en wit. Jy sien hom gereeld op die paaie met sy kruis op sy skouers. Maar wie is die man wat die harte van die Suid-Afrikaners aangegryp het.
Petrus Sitho is van Gonubie in Oos-Londen en vir hom is dit belangrik om bewusmaking rakende plaasmoorde te doen. Hy vertel Maandag met sy besoek aan Hermanus: “Ek het in 2018 ’n opdrag van God gekry om mense in te lig dat daar wel plaasmoorde is en dat ek mense moet bewus maak van dié grudaad in Suid-Afrika. Vir my gaan dit nie oor kleur nie, vir my gaan dit oor voedselsekerheid. Kyk wat het met ons buurland Zimbabwe gebeur toe boere van hul plase afgesit is”.
Hy het besluit om letterlik sy kruis op te neem en deur Suid-Afrika te reis om sodoende bewusmaking onder inwoners te kweek. “My storie is ’n storie van vergifnis, van gehoorsaamheid en om die wil van God te doen. Ek is self ’n boer, het goed gedoen, maar God het my geroep om Sy wil te doen en om boere te beskerm. Dit maak my kwaad as ek na ons president, Cyril Ramaphosa, luister en hy vertel dat hier geen plaasmoorde in ons land is nie. Dis ’n leuen wat hy in 2018 vertel het en ek het hom aangevat daaroor,” vertel hy terwyl hy na die vele e-posse wys wat hy vir die president en die minister van polisie gestuur het. Hy vertel met trane in sy oë oor die keer wat hy aangerand is en by die dood omgedraai het. “Dis net die genade van die Here wat my daardeur gedra het. Ek kan getuig dat die Here my voorsiener is. Toe ek besluit het om Hom te volg, het ek alles verloor, maar die Here voorsien nog elke keer deur nie net vir my te sorg nie, maar ook om my te beskerm”.
Petrus het vandag (13 Desember) saam met baie ander die parlement besoek om sy stem dik te maak teen plaasmoorde, die Phala Phala-saga en ook om sy misnoeë uit te spreek oor hoe die regering en die polisie die kwessie rakende plaasmoorde hanteer. ’n Spesiale fisieke sitting, waar al 400 LP’s teenwoordig moes wees is vanmiddag gehou rakende die Phala Phala-gebeure.
“Hulle kan my maar toesluit, maar niemand gaan my stilmaak oor dit wat reg is nie”. Beeldmateriaal is ook vandag op Facebook gedeel waar hy met sy kruis op sy rug en ’n wit laken met rooi hande op voor die parlement staan en sy siening op nasionale televisie deel.
Merinda Meyer, pastoor van die Rots en Lig-bediening in Pringlebaai, het Petrus op Facebook begin volg en nadat sy agtergekom het wat hy alles doen en dat hy op pad is na die parlement het sy hom genader en hulp aangebied. “Dit was vir my ’n wonderlike voorreg om hom te ontmoet. Ek is oorspronklik van Limpopo en het familie wat daar geboer het. Ek het ook al familie aan ’n plaasaanval verloor, en dis waarom dit vir my belangrik is om Petrus te ondersteun, nie net vir dit wat hy vir die boere doen nie, maar ook dat hy sy opdrag van God gehoorsaam. Hy het gisteraand in Hermanus by die gastehuis van Martin Delport, Port Del Mar geslaap, waar hy sy storie vir ’n klompie mense vertel het. Dis ongelooflik wat hy vir ander doen en waardeur hy al in die lewe was,” het Merinda vertel. “Ek wil net elkeen bedank vir hul bydrae om Petrus hier te kry en om sy goeie werke te ondersteun. Baie dankie vir Martin wat ons hier in Hermanus kom verwelkom het en dat jou deure altyd vir ons oopstaan,” het sy gesê.