Sy was nie net ’n geliefde inwoner wat almal met haar
vriendelikheid bekoor het nie, maar ook ’n graad 1-onderwyseres by Hoërskool
Grabouw wat dié nuwelinge altyd vinnig laat tuis voel het.

Erika van Zyl is Woensdag 2 Junie ná ’n lang stryd teen
kanker dood.

Herholdt Bezuidenhout, die hoof, het haar op die skool se
Facebookblad as die voorbeeld wat sy altyd was, beskryf.

“Erika het op 1 Januarie 2006 diens by Hoërskool Grabouw
aanvaar waar sy vir 14 jaar, tot 2019, elke jaar vir ’n graad 1-klas skoolgegee
het. Behalwe die feit dat sy die fondasie van akademiese sukses in leerders
neergelê het, was sy ook aktief in netbal-, mini-krieket- en ander
sportafrigting. Sy het voorwaar diep spore in die Grabouw-gemeenskap getrap en
haar plek is vandag leeg,” het Bezuidenhout op die Facebookblad geskryf.

Die skool het ook die inwoners, ouers, kollegas en
oudleerders genooi om kaartjies van bemoediging by die skool te kom afgee.
Verskeie boodskappe oor wat Juffrou Erika vir almal beteken het, is ook op die
skool se Facebookblad gedeel.

Erika word oorleef deur haar man, Francois, hul dogters, Re
en Isabel, en seun, Carl. Teen druktyd is nog geen begrafnisreëlings getref
nie.

You need to be Logged In to leave a comment.