Om vir ’n kind te vertel dat kanker by een van sy of haar ouers gediagnoseer is, is ’n moeilike taak. Nie net verstaan hulle glad nie die stryd nie, maar hulle weet self nie hoe om dit te hanteer of hoe om hul ouers te ondersteun nie.
Kansa se TLC-program (Touch Living with cancer) het onlangs ’n nuwe kinderboek, The Secret Warrior, die lig laat sien, wat kinders help om dié moeilike situasie beter te verstaan en te hanteer. Wat die boek nog meer spesiaal maak, is die feit dat die skrywer, Sally Ann Carter, ’n inwoner van Hermanus is.
Carter, wat self ’n maatskaplike werker is, vertel: “Kinders hou van stories en dit is dikwels vir ouers die geskikte manier om moeilike onderwerpe aan te pak.”
Volgens Kansa wil ouers hul kinders teen die swaarkry en hartseer beskerm, maar dit is ook belangrik om openlik te wees oor wat in die gesin gebeur. Hierdie geïllustreerde en kleurryke boekie sal ouers help om dit makliker te maak,” het Kansa in ’n persverklaring gesê.
Die boek handel oor ’n seun, Jack, wat agterkom dat dinge nie meer volgens roetine verloop nie. Namate die storie ontvou, is sy hond, Lucy, ’n buurman se kat, Muesli, en ’n dokter se papegaai, Cheeky, die vriende na wie hy hom wend vir raad en antwoorde.
’n Eenvoudige verduideliking van kanker en behandelingsopsies word deur die harige en geveerde metgeselle verskaf.
“Die verhaal bied die geleentheid om sommige van die werklikhede, wat na die diagnose in die gesig gestaar word, te bespreek, byvoorbeeld dat ’n ouer as gevolg van die newe-effekte van kanker of behandeling nie so aktief of teenwoordig soos gewoonlik is of nie ’n spesiale geleentheid kan bywoon nie, en hoe om dit as gesin positief te hanteer; ’n skielike toestroming van familie of ander mense na die huis en veranderinge in roetine en hoe om dit die hoof te bied,” het die persverklaring gelui.
’n E-weergawe, ontwikkel deur HelloFCB+, is aanlyn op Kansa se webwerf beskikbaar by www.cansa.org.za en gedrukte kopieë sal by Kansa-sorgsentrums beskikbaar wees. Die boek sal ook na nabygeleë onkologie-sentrums en plaaslike hospitale versprei word. . Vir nog inligting of berading, skakel 0800 226 622 vir ’n gratis afspraak.