Wat is ’n fees sonder ’n produksie wat die wenkbroue so ’n bietjie sal laat lig?
Die Hermanus Times-Kalfiefees het vanjaar ook ’n produksie wat jou oor die lewe sal laat wonder – Plesierengel.
Dié eenmanstuk is gegrond op Leon van Nierop se blitsverkopers Plesierengel en Katelknaap.
Tristan het in ’n streng en liefdelose huis grootgeword, en tragiese omstandighede dwing hom om ’n sekswerker te word. Hy laat vroue swymel, en gou word hy die gewildste en hoogs betaalde gigolo in Suid-Afrika. Vir Tristan gaan dit egter nie net om seks nie – vir hom is dit belangriker om waarlik liefgehê te word. Gegrond op ware gebeure.
Ruan Wessel, wat as jong akteur in onder andere Binnelanders en die rolprente Jou Romeo en Hoofmeisie voor die oë van Suid-Afrikaners grootgeword het, vertolk die titelrol in die nuwe eenmanvertoning.
Plesierengel is Maandag 8 Augustus in die Ouditorium te sien. Vir besprekings, kontak Webtickets of volg die Kalfiefees op sy Facebookblad.