Ken jou dorp: Denzil Jacobs

Denzil Jacobs is 2013 na ’n onmenslik wrede aanval vir dood agtergelaat. Die blote feit dat hy vandag hier is om sy merkwaardige lewensverhaal te vertel, is nie net ’n wonderwerk nie, maar ook getuienis van sy onwrikbare geloof en deursettingsvermoë.


Denzil Jacobs is 2013 na ’n onmenslik wrede aanval vir dood agtergelaat. Die blote feit dat hy vandag hier is om sy merkwaardige lewensverhaal te vertel, is nie net ’n wonderwerk nie, maar ook getuienis van sy onwrikbare geloof en deursettingsvermoë.

Jacobs is in Grabouw gebore en het daar grootgeword. Sy droom om ná skool drama te studeer, is weens finansiële redes gekortwiek. “Met ’n enkelma was daar nie geld om te gaan leer nie. Ek het toe besluit om ’n verpleër te word, en het appels in die boor­de gepluk om geld te verdien. Tussen kursusse het ek gereeld in die boorde gewerk.

“Ek wou mense help en het ná my studies by ’n ouetehuis en hospies gewerk. Ek was die enig­ste kind, en het ook my ma versorg nadat ek haar by die hospies ingeboek het.”

Jacobs se ma is op 13 Septem­ber 2013 oorlede. Jacobs se lewe het in die vroeë oggendure op die dag van sy ma se begrafnis onherroeplik verander. “Dit het hard gereën en ek het 02:00 die oggend wakkergeskrik met iemand wat met ’n tuinvurk teen my nek staan. Ek kon geen weer­stand bied nie. Hulle het geld gevra. Hulle het die tuinvurk in my nek ingedruk, my uitgetrek en van die bed af gegooi. Alles het vir my in slow motion ge­beur. Ek het spasmas gekry, want ek het gedink hulle gaan my verkrag. Hulle het ’n ge­breek­te bottel in die gat in my nek, wat deur die tuinvurk gemaak is, gedruk en gedraai en ook die steel van ’n eetlepel aan die ander kant in my nek ingedruk. Dit het in daardie stadium gevoel asof iets my liggaam verlaat, soos wanneer ’n mens jou asem uitblaas. Ek het onmiddellik besef dat ek verlam is. Toe gooi hulle my teen die muur en probeer my met ’n kussing versmoor. Op daardie oomblik het ek geweet ek is dood, maar toe ek later vir ’n kort rukkie bygekom het, het ek twee keer om hulp geroep. Iemand wat verbygeloop het, het my gehoor. Dit was soos ’n engel wat die Here gestuur het. Hulle het gedink ek is dood.”

’n Ambulans het Jacobs na die Tygerberg-hospitaal geneem. Ná maande in ’n koma is hy meegedeel hy het ’n C4-ruggraat­besering opgedoen en is van die nek af ondertoe verlam. “Ek het rehabilitasie ontvang, maar was vir ’n jaar heeltemal verlam en kon niks doen nie. Ek het my bekeer en van toe af kon ek my arms beweeg. Ek het geen greep in my hande nie en kan nie ’n pen vashou en skryf nie, maar ek kan self eet.”

Jacobs woon by sy 74-jarige tannie, haar dogter en familie, wat hom versorg. “Dit was vir my ’n groot aanpassing, want ek was altyd die een wat ander gehelp het. Ek het nog nooit vir die Here gevra hoekom dit met my ge­beur het nie. Ek het geen gevoel van haat nie, maar ek sou so graag by my ma se begrafnis wou wees, en dit het hulle my ontneem.”

Jacobs is in die vorige verkiesing as DA-raadslid vir sy wyk in Grabouw verkies. “Ek is die eerste gestremde DA-raadslid in Suid-Afrika en ook die eerste gestremde raadslid in die Theewaterskloof-munisipaliteit. Ek het nou ’n nuwe doelwit in die lewe en vind my vreugde en berusting in wat ek doen.”

Sy boodskap oor hoe om teen­oor gestremdes op te tree, is: “Mense wat liggaamlik en verstan­delik normaal is, moet hul mindset teenoor gestremdes verander. Mense moet meer bewus raak en hulp aanbied waar hulle kan. Hulle moet ons geensins bejammer nie. Ons moet mekaar respekteer.

“Dis wonderlik hoe die Here werk. Ons beding die weg, maar Hy bestuur die weg. Ek moet opstaan vir mense met gestremdhede. Die gemeenskap sien my nou as ’n leiersfiguur, maar dit het my as mens nie verander nie. Ek is steeds plat op die aarde.”

Jacobs sê hy is baie dank verskuldig aan die raadslid Sammy Fredericks, wat hom so bystaan en wat hy as ’n vaderfiguur sien. Fredericks sê: “Ons sê altyd hy is nie disabled nie, hy is differentlyabled. Hy wil ’n plaatjie neersit in die samelewing en hierdie plaatjie sal sê: “Niks is onmoontlik nie.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.