Toename in gebruikersgegenereerde inhoud verhoog die risiko van kopieregskending dramaties.
In die digitale bedeling is eise teen klein ondernemings nie meer beperk tot die klassieke “gly-&-trip”-voorvalle op die perseel nie. Risiko’s word toenemend baie meer kompleks en strek tot gebiede soos media-aanspreeklikheid.
Die toename in gebruikersgegenereerde inhoud, sosiale media en aanlyn publikasie het die risiko van kopieregsken- ding, laster en ander vorme van media-aanspreeklikheid dramaties verhoog – nie net vir klein sakeondernemings nie, maar ook vir individue wat as beïnvloeders of inhoudskeppers werk.
Dit is volgens Melita Thurling, die hoof van SureThing by ITOO Special Risks, wat waarsku dat die bevestiging van feite nou belangriker as ooit tevore is voordat enigiets gepubliseer word. Daarom moet sakeondernemings en individue verseker dat hulle die magtiging het om inligting te deel en dat hulle nie enigiemand se regte skend nie.
“Dit is veral deesdae absoluut noodsaaklik om bronne noukeurig te bevestig, wat beteken behoorlike feitekontrole moet gedoen word. Ons het talle gevalle gesien waar mense staatmaak op webwerwe of bronne wat blatant – of selfs subtiel – verkeerd is en dan daardie waninligting op hul beurt publiseer, wat hulle in diep moeilikheid laat beland,” sê Thurling.
Sy waarsku egter dat feitekontrole ook al hoe moeiliker word aangesien inhoud wat wettig lyk, dikwels misleidend kan wees en met die opkoms van KI-gegenereerde video’s en diep vervalsings is dit nog moeiliker om te onderskei wat eg is.
“Wat mense moet besef, is as hulle iets op ‘n kanaal soos WhatsApp sien en dit dan op hul eie platforms deel sonder om dit te verifieer, hulle nie op onkunde as ‘n verdediging kan staatmaak nie. Hulle sal steeds aanspreeklik wees vir die verspreiding van vals inligting, al was hulle nie die bron nie,” verduidelik sy. “Jy is altyd verantwoordelik vir die inhoud wat jy publiseer, ongeag waar dit vandaan kom. Om te sê ‘Ek het dit van iemand anders af gekry’, onthef jou nie van aanspreeklikheid nie. Daarom is dit van kardinale belang om te verseker dit wat jy deel, óf feitelik akkuraat is óf duidelik as mening aangebied word om regs- of reputasiegevolge te vermy.”
Thurling wys daarop dat dwingende inligting wat op sosialemediakanale soos Twitter of LinkedIn gevind word, maklik kruisverwys kan word met stories van gevestigde media-afsetpunte, wat wel goeie feitekontroleprosesse het. “Natuurlik is hulle nie onfeilbaar nie, maar dit is ‘n laag beskerming wanneer jy probeer om die akkuraatheid van wat jy op die punt staan om te deel, na te gaan. As verskeie betroubare nuusbronne oor dieselfde storie berig, voeg dit geloofwaardigheid by. En wanneer inhoud meer na mening as feite leun, is dit belangrik om die bron se voorneme of vooroordeel in ag te neem,” sê sy.
Nog ‘n kwessie waarvan beïnvloeders en klein ondernemings bewus moet wees, is dié van intellektuele eiendomsregte. In ‘n onlangse geval het ‘n plaaslike aktrise ‘n foto van haarself weer geplaas, maar die beeld is tydens ‘n professionele fotosessie deur ‘n agentskap geneem. Terwyl sy aangeneem het sy het die reg om dit te gebruik, het die agentskap haar vir kopieregskending gedagvaar.
“Dit is ‘n herinnering dat kontrakte saak maak. Net omdat jy in die foto is, beteken dit nie dat jy dit besit nie. Jy moet verstaan wat jy mag gebruik en dit moet duidelik in enige ooreenkoms uiteengesit word,” sê Thurling.
“Dit is veral relevant vir beïnvloeders. Baie is individue wat ‘n aanhang deur charisma of teenwoordigheid opgebou het, maar hulle is dalk nie ten volle bewus van die wetlike grense nie. Hulle bedryf ‘n sakeonderneming, maar dikwels sonder formele opleiding, professionele netwerke of institusionele ondersteuning. Daardie gebrek aan bewustheid kan vinnig tot probleme lei.”
Dit is waar aanspreeklikheidsversekering inkom, wat broodnodige beskerming vir beïnvloeders of klein ondernemings kan bied. Hoewel kuberversekering tipies kopieregkwessies en laster dek, bied omvattende aanspreeklikheidsdekking veerkragtigheid in ‘n onvoorspelbare wêreld, wat beskerm teen risiko’s wat veel verder as die fisieke strek.
“Natuurlik moet die voorval onbedoeld wees. Versekering is ontwerp om teen foute te beskerm, nie teen opsetlike oortredings nie. Maar nie alle voorvalle wat uit onkunde voortspruit, sal gedek word nie. As jou onkunde aan roekeloosheid grens – iets wat jy regtig moes geweet het – dan kan die versekeraar dalk nie reageer nie. As dit ‘n werklike misverstand is – veral in ‘n komplekse of onduidelike regsgebied – behoort die polis jou steeds te dek,” sê Thurling. “Versekering is daar om teen eerlike foute te beskerm, nie teen onwettige dade nie.”





