95 jaar gelede, in Mei 1927, kon die NG gemeente van Stanford in hul nuwe kerkgebou begin dienste hou.

Dié gemeente se ontstaan kan teruggeneem word na 14 Oktober 1913 – op dié datum is die gemeente van Napier afgestig.

Ná ywerige geldinsamelings is die hoeksteen van die kerkgebou op 5 Junie 1926 deur dominee M.N. van Rensburg gelê. Die kerkgebou van die NG kerk Stanford is in Mei 1927 in gebruik geneem.

Vanjaar is die kerk dus 95 jaar in gebruik. Dominee Hans Steyn, die leraar, sê: “Lidmate van Stanford is so dankbaar vir die besondere aanbiddingsplek wat ons nog gereeld kan gebruik. Selfs van buite Stanford hoor ons gereeld mense maak melding van die mooi kerkgebou.”

Volgens Steyn beoog die gemeente ’n spesiale geleentheid Sondag 29 Mei. Die tema van die geleentheid is: “Vier jou erfenis”. Die beplande aktiwiteite is onder meer ’n orrelkonsert deur Zorada Temmingh, ’n befaam­de orrelis van Stellenbosch om 11:00 gevolg deur ’n middagete. Kaartjies kos R250 en sluit die musiekkonsert én middagete in. Kaartjies kan tot 25 Mei by die kerkkantoor (slegs Maandae en Woensdae), by die skriba op 072 358 7997 óf by ngkstanford@gmail.com bespreek word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article