Die 26ste Caledon Kersmark, wat van 28 Oktober tot 2 November in die NG Moedergemeente se saal aangebied is, was weer eens ’n groot sukses.
Besoekers kon danksy 62 uitstallers, onder wie verskeie nuwe uitstallers, kies en keur uit al die pragtige produkte wat te koop aangebied is. Daar was, onder meer, ’n verskeidenheid gebak, ingelegde produkte, klere, juweliersware, speelgoed, leer- en lapmateriaal-handsakke, skoonheidsprodukte en Kersversierings.
Dié gewilde Kersmark, wat deur die Vrouediens van die Moedergemeente van die Caledon NG kerk aangebied is, het ’n jaarlikse instelling geword – nie net onder plaaslike inwoners nie, maar ook by mense van omliggende dorpe. Die teetuin, wat ligte maaltye, koffie, tee en koek voorsien, is altyd ’n treffer. Nie net is dit ’n gesellige plek waar gaste ná hul inkopies heerlik kan kuier en gesels nie, maar ook waar sakelui tydens hul etensuur ’n ligte maaltyd kan geniet. Vir dié wat nie lus was vir kosmaak ná werk nie, was ’n verskeidenheid wegneemetes beskikbaar.
Lizette Kok, wat die bemarking van die Kersmark behartig, het aan Hermanus Times genoem hulle is baie tevrede met die opkoms en nie eens die reënweer op die openingsdag het mense gekeer om die Kersmark te besoek nie.
Almal wat by die Kersmark help – by die kosvoorbereiding en bediening, hulp in die uitstalgebied en by die kasregisters – is vrywilligers wat jaar ná jaar inspring en hulp aanbied.