’n Groep ma’s wat hulle oor kinders in pleegsorg en behoeftige kinders van Hawston ontferm, het Kersvader gespeel deur vir dié minderbevoorregte kinders ’n vrolike Kerspartytjie te hou.
Alvaria Mento, die stigter van God’s Little Angels’ Moms, ’n organisasie sonder winsbejag, vertel hulle het sedert September drie geldinsamelingsgeleenthede gehou om geld vir dié doel bymekaar te maak.
Met die geld wat ingesamel is en skenkings wat gegee is, kon die organisasie Maandag 9 Desember ’n groep kinders van die dorp behoorlik bederf met heerlike kos, koek, Kersgeskenke en die vreugde om op ’n springkasteel te baljaar.
“Baie dankie aan Neville Johnson vir die springkasteel en Lamiah’s Printing vir ons T-hemde, sowel as almal wat ons geleenthede ondersteun het om die partytjie moontlik te maak,” sê sy.
Die organisasie, wat gereeld sopkombuise beman, het ’n beroep op die gemeenskap en ondernemings gedoen om hulle met skenkings van eetgoed en koeldranke te ondersteun vir ’n geldinsameling wat vir Januarie of Februarie beplan word.
“Ons wil graag ook behoeftige gesinne met pakkies kruideniersware help,” sê Alvaria.
. Bel Alvaria by 082 708 8696 om God’s Little Angels’ Moms by te staan.