Hy was ’n oudleerder aan die Hoërskool Hermanus en Hawston Sekondêr, maar met sy sporttalent het die Hoërskool Garsfontein in Pretoria hom opgeraap.
Junaide Pasensie, ’n inwoner van Mount Pleasant, se rugbytoekoms lyk só rooskleurig dat keurders nou al voorspel hy gaan nog eendag die groen-en-goud-trui oor sy kop trek.
Vanjaar is hy nie net vir die Blou Bulle se Cravenweekspan as heelagter gekies nie, maar die groot eer het hom ook te beurt geval om vir die Suid-Afrikaanse Elite-o.18-ontwikkelingspan gekies te word – en hy is maar in gr. 11.
Junaide se nederige persoonlikheid maak hom geliefd onder nie net die afrigters nie, maar ook sy spanmaats. In ’n onderhoud wat hy in Julie met Hermanus Times gehad het, het hy vertel hoe groot eer dit was om as heelagter vir die Cravenweekspan gekies te word. “My posisie is eintlik losskakel, maar die geleentheid wat God my gegee het om vir die Blou Bulle as heelagter uit te draf, het ek met albei hande aangegryp,” het hy gesê. (Hermanus Times, 10 Julie 2024, “Junaide maak al van vroeg af indruk op rugbyveld”).
Hy sien ook uit na die nuwe uitdaging en sê hy gaan sy allerbeste gee.