Nadat die Wes-Kaapse hooggeregshof die lede van
die Grabouw Khoisan-raad tot 19 Mei kans gegee het om die grond by
Knoflokskraal naby Grabouw te ontruim en redes aan die hof te verskaf waarom
die tussentydse bevel nie uitgevoer kan word nie, het kontrakteurs, wat deur
die departement openbare werke aangestel is om strukture af te breek, Dinsdag
18 Mei op dié stuk grond toegeslaan.
Ongelukkige grondbesetters het na die grond
opgeruk en hul misnoeë uitgespreek. Polisiebeamptes en die wetstoepassers van
die Theewaterskloof-munisipaliteit was ook op die toneel om orde toe te pas.
Die toneel was rustig en al het die gemoedere hooggeloop was daar geen misdaad
gepleeg nie. Grappe is gedeel en die samhorigheid tussen die lede van die
Grabouw Khoisan-raad was duidelik sigbaar.
Volgens die ontevrede grondbesetters het iemand
die datum verkeerd en is dié aksie onnodig. “Dis wettiglik ons grond en ons
gaan nie hier padgee nie,” het van hulle aan Hermanus Times gesê.
Volgens Chris Gertse, ondervoorsitter van die Grabouw Khoisan-raad, is daar al
meer as 1 000 strukture op die grond opgerig. Gertse het beklemtoon dat dit nie
grondbesetting is soos wat die regering dit noem nie, maar eerder terugwinning.
“Solank jy bruin is, is jy deel van dié gemeenskap en is jy geregtig op ‘n stukkie
grond,” het Gertse gesê. Volgens hom het daar bloed op die grond gevloei en is
dit wettiglik die grond van die Khoi-San.
Patricia de Lille, minister van openbare werke
en infrastruktuur, het in April ‘n dringende aansoek by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien waarin sy ‘n interdik
gevra het om inwoners te keer om op grond wat aan die departement behoort,
onwettige strukture te bou en dit te beset. Die departement openbare werke en infrastruktuur
en departement van landbou, bosbou en omgewing het op 21 April ‘n tussentydse
bevel van die hooggeregshof bekom. Ingevolge die tussentydse bevel mag nuwe
besetters nie die grond beset nie, hulle mag niemand intimideer, dreig, aanval
of enige wetstoepassers daarvan weerhou om hulle pligte uit te voer met
betrekking tot die grond nie.
“Vanoggend se gebeure is net weer eens ‘n bewys
dat die regering nie by hul woord hou nie. Ons het nie eers geweet van dié
aksie nie,” het ‘n inwoner gesê. “Ons is
geregtig op die grond en niemand sal ons hier afkry nie,” het hy gesê.
Volgens Gertse het die leierskorps saam met hul
prokureur ‘n vergadering gehou en gaan Gertse saam met Mark Matthews op 19 Mei
in die hof verskyn. “Daar kan nou geen uitsetting plaasvind voordat die hof nie
‘n uitspraak lewer nie. Daar mag ook geen strukture afgebreek word nie en die
kontrakteurs en wetstoepassers moet onttrek. Die hooggeregshof het ook beslis
dat daar nie verder strukture opgerig kan word nie en strukture wat reeds
bestaan, mag bewoon word. Die reeds bestaande strukture is ook gemerk vir dié
doeleindes,” het Gertse gesê.
Gertse het ook bevestig dat die leierskorps in
die toekoms met die departement openbare werke gaan vergader om oplossings te
vind.