Kersfees is ’n tyd van gee, en ná die Covid-19-pandemie voel soveel mense nie die liefde en wonder van die Kerstyd nie.

“Dit is veral kinders wat in Kerstyd swaarkry. Hulle leer van kleins af dat Kersvader daar gaan wees vir hulle en, as hulle soet was, gaan hulle ’n geskenkie kry. Nie net kan hul ouers nie ’n geskenkie bekostig nie, maar hulle voel ook of hulle gestraf word aangesien hulle nie ’n geskenkie kry nie,” het ’n maatskaplike werker gesê.

“Dit is werklik vir hulle baie moeilik, en om die teleurstelling op hul gesigte te sien as Kerstyd kom en hulle kry niks nie, is nie iets wat jy maklik kan vergeet nie”.

Hermanus Times het besluit om hierdie jaar na die Nomzamo-kleuterskool in Zwelihle uit te reik, waar die personeel die kinders met ’n Kerspartytjie gaan bederf. “Ons het egter die samewerking van die inwoners nodig om hierdie dag vir die kindertjies spesiaal te maak. Die skool het 106 kinders, van wie 53 seuns en 53 meisies is. Ons wil inwoners graag vra om ons te help om geskenkpakkies vir die kinders te gee. In die geskenkpakkie, wat ons ’n ‘liefdesboksie’ noem, moet daar ’n waslappie, seep, tandeborsel, tandepaste (vir kinders), ’n lekkergoedjie, bubbles, klei en ’n inkleurboek en kryt wees,” vra Mariëtte Strydom, redakteur van Hermanus Times. “Ons gaan die ‘liefdesbokse’ op 17 November aan die kinders uitdeel.”

Sakeondernemings in die dorp word genooi om deel van die projek te wees en mekaar uit te daag om te kyk wie skenk die meeste “liefdesbokse”. Die onderne­ming wat die meeste “liefdesbokse” gee, gaan ook ’n gratis promosieartikel in die Hermanus Times kry.

Die “liefdesbokse” kan by die Hermanus Times-kantoor by die Birkenhead-gebou in Hoofweg afgelaai word, of vir meer inligting kontak 028 312 3717.

You need to be Logged In to leave a comment.