Cady Fortuin is klein en petite, maar as dit by sport kom, het dié 16-jarige gr. 10-leerder aan Swartberg Sekondêr in Caledon deursettingsvermoë wat vir niks skrik nie.
Cady is ’n kranige atleet wat nie net in naellope uitblink nie, maar ook in landloop. Sy is onlangs in die Overberg- sowel as die Boland-landloopspan opgeneem. Haar groot voorliefde is egter raakrugby. Hoewel sy eers onlangs begin het om ernstig raakrugby te speel, is sy as deel van die Western Cape Islanders Touch Rugby-span gekies vir Sata (South African Touch Association) se presteerder-span vir meisies o.20 om in 2023 aan die Jeug-wêreldbeker in Engeland deel te neem.
Theresa Plaatjies van Swartberg Primêr sê: “Ek kyk altyd uit vir potensiaal by atletiekbyeenkomste en stuur hulle dan aan na Deirdre Michaels – Coach D – vir verdere afrigting. Ek het Cady al raakgesien toe sy in graad vier was. Sy was ’n tingerige, klein meisie, maar so rats. Sy het baie deursettingsvermoë en stamina, en dit is hoekom sy so goed in landloop doen.”
Labeeb Levi, eienaar van Western Cape Islanders-raakrugby, het haar potensiaal in dié sport hier in Caledon raakgesien. Hy het kinders gekies om te mentor, wat dan elke tweede naweek Kaapstad toe gegaan het vir afrigting. Sy het eers in die junior span gespeel, maar is baie gou na die senior span bevorder.
Cady sê: “Ek hou van uitdagings en geniet raakrugby baie. Ek moet fiks wees en stamina hê en gereeld oefen. Coach D help my baie en ek is baie dankbaar daarvoor.
“Ek het aanvanklik nie geweet ek gaan Engeland toe nie totdat my naam op Labeeb Levi se lys verskyn het. Ek is baie opgewonde daaroor en sommer baie trots op myself.”
Cady is nog nie heeltemal seker oor presies wat sy na skool wil doen nie, maar sy dink dat dit wel iets in die sportrigting sal wees – of atletiek, óf raakrugby.
Haar gunstelingkos is ’n lekker bord kookkos, en “as ek tyd kry, ry ek graag perd vir ontspanning”.