Motoriste word waarsku om Kleinmond se hoofweg te vermy aangesien betogers dele van die pad met brandende bande versper het.
Verkeer word tans deur die woonbuurte vanaf Middelrivier aan Hermanus se kant tot by DF Malherbe-straat aan Bettiesbaai se kant gelei.Adjudant-offisier Martin Mostert, Kleinmond-polisie se woordvoerder, berig dat ongeveer 200 betogers vanoggend die strate ingevaar het. Die groot groep het in vier kleiner groepe opgebreek.
“Die ongelukkigheid gaan volgens berigte oor dienslewering in die Overhills-informele nedersetting.“Die situasie is tans baie gespanne en die polisie moes rubberkoeëls gebruik om die skare rustiger te maak. Paaie is afgesper met brandende bande en ’n groot deel van die hoofweg is toe vir verkeer. Lede van die plaaslike polisie sowel die openbare orde polisie-eenheid (POP) en Overstrand-wetstoepassing is tans op die toneel,” berig Mostert.Hy het bevestig dat ’n aantal betogers in verband met die openbare geweld in hegtenis geneem is.’n Aantal ondernemings soos Albertyn Apteek, het hul deure as gevolg van die optog gesluit.
Overstrand-munisipaliteit se administrasie- en finansiële afdeling se kantore is ook tot verdere kennisgewing gesluit.