Wat ’n aand van feesviering moes wees, het algehele chaos geword toe ’n bekende sakeman van Kleinmond na bewering ’n vrou aangerand en rassistiese aanmerkings gemaak het.

Adjudant-offisier Martin Mostert, ’n woordvoerder van die Kleinmond-polisie, het bevestig ’n vrou het ná die voorval op Oujaarsaand ’n klagte van aanranding sowel as crimen injuria aangemeld.

Die vrou en ’n groep vriende was volgens berigte by ’n gewilde kuierplek in die dorp toe ’n onderonsie na bewering tussen haar en die eienaar uitgebreek en hy haar na bewering geklap het. Nog ’n vrou is glo ook in die chaos wat ontstaan het, aangerand, maar volgens die polisie het slegs een klaer ’n klagte aangemeld.

“Die klaer beweer die eienaar het haar aangerand nadat sy haar geld teruggeëis het omdat die skuimpartytjie wat geadverteer is, nie plaasgevind het nie. Rassistiese aanmerkings is na bewering ook rondgeslinger. Die saak word ondersoek. Die verdagte het nog nie in die hof verskyn nie en kan dus nie geïdentifiseer word nie,” het Mostert bygevoeg.

Elton Dankers, die voorsitter van die Proteadorp-buurtwag sowel as die Kleinmond-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), sê inwoners van veral Proteadorp is erg omgekrap oor die beweerde voorval.

“Van wat ek verstaan, is dit blykbaar nie die eerste keer dat die betrokke sakeman sulke rassistiese aanmerkings gemaak het en vroue betrokke was nie, maar dit is wel die eerste keer dat aksie teen hom geneem word. Sulke voorvalle waar ras en GBV (geslagsgegronde geweld) betrokke is, is nie algemeen in ons omgewing nie,” het Dankers bygevoeg.

Dankers het beklemtoon dat dit uiters belangrik is dat mense sulke voorvalle by die polisie aanmeld sodat duidelikheid rakende die voorval verkry kan word en geregtigheid kan geskied in stede daarvan dat boodskappe op sosiale media rondvlieg.

“Dit is belangrik dat ons die polisie ondersteun en sake aanmeld,” het hy bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.