Daar is ’n groot polisieteenwoordigheid in Kleinmond en motoriste kan weer eens die hoofweg gebruik nadat dit vroeër vanoggend weens ’n betoging oor dienslewering gesluit was.
Meer as 200 mense het vroeg vanoggend die strate ingevaar en die R44 met brandende bande en vullis afgesper. Die polisie moes rubberkoeëls en skokgranate gebruik om die skare, wat skade aan verskeie ondernemings langs die hoofweg aangerig het, uiteen te dryf. ’n Aantal winkels, insluitend Albertyn Apteek, het hul deure as gevolg van die optog gesluit. Overstrand-munisipaliteit se administrasie- en finansiële afdeling se kantore was die oggend gesluit, maar is sedertdien weer heropen.
Adjudant-offisier Martin Mostert, Kleinmond-polisie se woordvoerder, het bevestig dat ’n aantal betogers in verband met die openbare geweld, dit sluit brandstigting in, in hegtenis geneem is. Lede van die plaaslike polisie sowel die openbare orde polisie-eenheid (POP) en Overstrand- wetstoepassing monitor steeds die omgewing. Inwoners het volgens berigte besluit om te betoog nadat die Overstrand-burgemeester, dr. Annelie Rabie, na bewering geweier het om Dinsdagaand (20 September) met die gemeenskap te vergader. Volgens ’n persverystelling deur Overstrand-munisipaliteit het die speaker, Grant Cohen, Vrydag 16 September ’n versoek ontvang van Willie August en iemand wat net as Meneer Koti geïdentifiseer is wat daarop aangedring het om die burgemeester, die munisipale bestuurder, wyksraadslede en verskeie ander amptenare by die gemeenskapsvergadering te hê wat op ’n oop stuk grond in Kleinmond gehou is. Van die kwessies wat bespreek sou word, was hoë elektrisiteit- en waterrekeninge, behuising, uitkontraktering van munisipale dienste en taxistaanplekke.
Dean O’Neill, OM se munisipale bestuurder, sê volgens die plaaslike wyksraadslid vir die gebied is al die genoemde kwessies reeds op verskeie geleenthede by wyksvergaderings bespreek. “Dit moet ook duidelik gemaak word dat van hierdie dienste soos behuising en die elektrifisering van onbeplande informele nedersettings, nie binne die munisipaliteit se beheer is nie.
“Die behoefte aan behuising en dienslewering word verder vererger deur ‘shack farming’, ’n verskynsel wat in alle dorpe oor die Overstrand heen voorkom,” aldus O’Neill. “Basies word hierdie strukture op munisipale grond opgerig deur sekere individue wat dit dan vir eie gewin aan ander mense, gewoonlik buitelanders, verhuur. Dit is uiters moeilik om hierdie praktyk stop te sit aangesien die gemeenskappe nie die skuldiges wil identifiseer nie. Die raad sal wel verdere inligting hieroor verkry en daarvolgens optree.”
Gemoedere het effens kalmeer toe raadslid Clinton Lerm, burgemeesterskomiteelid: belegging en infrastruktuur, opgedaag het om namens die burgemeester met die gemeenskapsleiers te ontmoet en die memorandum te ontvang. Die leiers is daarna uiteen om terugvoering aan die gemeenskap te gee.