Hy is ‘n Kleinmonder wat nou oorsee werk, maar De Wet Hugo se boeke laat jonk en oud nie net skater van die lag nie, maar ook op die rand van hul stoele hou.
De Wet se nuutste kinderboek, Katastrofe, gaan op 15 April op die rakke wees.
’n Katastrofe het Katjiesfontein getref! Die geld wat mevrou Mynie Koen vir die talentkompetisie geskenk het, is van juffrou Katoliek se lessenaar af gesteel. Leo is seker dit was daardie boelie, Spiertier. Tiere soek mos altyd skoor! Of dalk het dit iets te doen met Gato, die vreemde nuwe leerling in Laerskool Katedraal wat van Katalonië af kom. Maar skielik dink almal Leo was die dief! Hoe gaan hy sy onskuld bewys en vir Spiertier uitvang? En wie gaan die talentkompetisie wen?
De Wet is ‘n laerskoolonderwyser wat al vir meer as ‘n dekade by ‘n Britse Internasionale Skool in Saoedi-Arabië werk. Kleinnmond is sy Suid-Afrikaanse tuiste. Hy het reeds bydraes gepubliseer in Rympies vir Pikkies en Peuters, Liedjies vir Pikkies en Peuters, Skrik op die lyf , Rympies vir Kleintjies en Kleuters en Skool is ‘n riller.
Die illustreerder van die boek, Martinus van Tee, doen illustrasiewerk, teken karikature en maak animasieflieks en advertensies. Hy werk graag in gouache en waterverf. Wanneer hy nie vir die lekkerte krokodille teken wanneer hy veronderstel is om te werk nie, irriteer hy sy vriende met stemnabootsings van David Attenborough. Hy woon in Kaapstad.