Wêreld-hardopleesdag: Kleintjies oral die ene ore

Lank voor die geskrewe woord is geskiedenis mondelings deur middel van storievertelling van geslag tot geslag weergegee.


Lank voor die geskrewe woord is geskiedenis mondelings deur middel van storievertelling van geslag tot geslag weergegee.

Om kinders en gemeenskappe deur die krag van stories te versterk, het LitWord, ’n organisasie sonder winsbejag, die eerste Wêreld-hardopleesdag in 2010 bekendgestel. Dié dag word jaarliks in meer as 170 lande op die eerste Woensdag in Februarie gevier.

Die personeel van die Caledon-biblioteek het Woensdag 7 Februarie by verskeie skole uit die boek Die verlore katjie deur Stacey Fru voorgelees.

In Swartberg Primêr se skoolsaal was daar nie plek vir ’n muis nie. Die saal was propvol grondslagfaseleerders (graad R-3) wat gretig gewag het vir die voorlesing om te begin. Gerhard van Wyk het plat op die vloer op die verhoog gesit en die storie gelees. Hy is bygestaan deur kollegas wat ook elkeen ’n deel gehad het om voor te lees. Dit was ’n interaktiewe voorlesing, met die leerders wat nie net geskater het van die lag nie, maar ook die dieregeluide nagemaak het. Ná die voorlesing het die leerders gretig vrae beantwoord.

Die doel van Hardopleesdag is nie net om ’n liefde vir lees by kinders aan te moedig nie, maar ook om die krag van woorde te ervaar. Van Wyk sê: “Vir ons as personeel is dit baie belangrik om stories met die kinders te deel, want hierdie stories lê ’n sterk basis wat taal en woordeskat vir die kinders betref.

“Ons het ook by The Glebe Primêr in Myddleton voorgelees en omtrent 700 kinders bereik. Die Hardopleesdag was ’n reusesukses,” sê Van Wyk.

Biblioteekpersoneel het ook by Boontjieskraal Primêr en by die Sonskyn-kleuterskool voorlesings gedoen, wat die getal kinders wat bereik is, op sowat 1 000 te staan gebring het.

Biblioteke oor die Overberg heen het aan die Wêreld-hardopleesdag deelgeneem.

You need to be Logged In to leave a comment.