Swartberg Primêr het onlangs ’n wonderlike meevaller gekry toe MOOV skoolklere sowel as sportuitrustings en -toerusting aan hulle geskenk het.
MOOV, ’n brandstofvoorsiener en -vervoermaatskappy, doen al sedert 1957 sake en het deesdae depots in onder meer Caledon en Bredasdorp.
Deon Mannenveld, hoofbestuurder van logistiek en bedrywighede by MOOV, vertel aan Hermanus Times: “Ons uitvoerende hoof het verlede jaar gevoel ons moet ’n bietjie terugploeg in die gemeenskappe waarin ons bedrywig is, want dit is immers die mense wat vir ons werk gee.
“Sekere skole en kleuterskole is geïdentifiseer en ons het gevra hoe ons hulle aan die hand kan vat en hulp kan aanbied. Ons het gesien waarmee ons kan help en ons wil spesifiek die kinders wat dit dalk nie kan bekostig nie, van skoolklere, sporttoerusting en skryfbehoeftes voorsien. Dit maak ons trots om te kan terugploeg in die gemeenskap,” sê Mannenveld.
Verskeie sportspanne is van sportdrag voorsien met beffies wat die MOOV-logo op het.
Die skoolhoof, Chris Delport, sê: “Ons waardeer die skenking en die inisiatief wat MOOV aan die dag gelê het opreg en ons is dankbaar dat ons as skool geïdentifiseer is. Ons sal verseker dat die sportklere en toerusting goed opgepas sal word.”