Die polisie is op soek na vier mans en twee vroue wat Ackermans in die sakekern van Hermanus beroof het.

Kapt. Fadila September, ’n woordvoerder van die Hermanus-polisie, sê die rooftog het Vrydag 22 Julie omstreeks 17:10 plaasgevind.

“Volgens die personeel het vier gemaskerde mans en twee vroue die onderneming binnegekom. Hulle was na bewering gewapen met minstens drie vuurwapens en het geld en selfone geëis.”

Die rowers het volgens getuies die personeellede se hande met kabelbinders vasgebind en hulle in ’n kamertjie toegesluit.

Volgens September het die rowers selfone gesteel.

“Die rowers het die onderneming om 17:23 in ’n silwerkleurige vierdeur- Toyota sedan verlaat.”

Niemand is al in hegtenis geneem nie. Enigeen met inligting kan die Hermanus-polisie by 028 313 5300 of die Hermanus-speurtak tydens kantoorure by 028 313 7000 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.