Klub slaan ses met veld

Ná jare se soebat kry Grabouw-krieketklub die geleentheid om Elgin-buiteklub as ’n tuisveld te benut.


Ná jare se soebat kry Grabouw-krieketklub die geleentheid om Elgin-buiteklub as ’n tuisveld te benut.

’n Ooreenkoms is Woensdag 5 Januarie tussen die Theewaterskloof-munisipaliteit en Elgin-buiteklub aangegaan. Dié ooreenkoms gaan die Grabouw-krieketklub toelaat om van die Elgin-buiteklub as sy tuisveld gebruik te maak. Volgens Johan Clarke, Grabouw-krieketklub se voorsitter, is dit die eerste keer dat dié klub die geleentheid gegun is om saam met al die rolspelers om ’n tafel te sit.

Clarke sê die Grabouw-krieketklub het ’n waterskeidingsooreenkoms met die Elgin-buiteklub bereik om die oorblywende tuiswedstryde by hierdie skilderagtige venue te speel. Die Elgin-buiteklub, geleë in Grabouw langs die Eikenhofdam, is een van die mooiste venues in die Overberg-streek.

“Die Grabouw-krieketklub het langer as drie jaar onsuksesvol probeer om krieket by hierdie venue te speel, en het gereeld samesprekings met die Elgin-buiteklub en die Theewaterskloof-munisipaliteit gehou sonder enige werklike vordering. Dit het verander toe die klub die nuutverkose burgemeester, Kallie Papier, en sy onderburgemeester, John Michels, wat van Grabouw is en ’n trotse ondersteuner van die klub is, genader het,” sê Clarke.

’n Vergadering is belê wat op ’n ooreenkoms uitgeloop het.

“Die ooreenkoms het beteken dat die Grabouw-krieketklub sy oorblywende wedstryde teen geen koste by Elgin-buiteklub sal speel, met die munisipaliteit wat op sy beurt instem om die klub met dienste by te staan.”

Papier, die TWK-munisipaliteit se burgemeester, sê dit is slegs die begin van groot veranderinge binne die Theewaterskloof-munisipaliteit wat in sy termyn op sport van toepassing sal wees.

Clarke sê gesprekke is steeds aan die gang met nog opwindende nuus wat in die nabye toekoms gedeel sal word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.