Rugbyspelers van Kleinmond, Hawston se Skrik vir Niks-span, die Atlantics van Mount Pleasant, die Stanford Universals, die Black Birds van Hemel-en-Aarde en Gansbaai se Black Leaves sal kragte smee om twee spanne te vorm wat aan Boland-rugbyunie se klubrugby-streektoernooi gaan deelneem.
Spelers van dié onderskeie klubs sal gekies word vir twee spanne, wat die Overstrand in ’n rondomtalie-kompetisie (knockout competition) sal verteenwoordig waar 13 klubs van ander distrikte, soos Theewaterskloof, Kaap Agulhas en Swartland, om die titel as streekkampioen sal meeding.
’n Vrouerugbyspan en ’n o.20-span sal ook gekies word.
Die eerste wedstryd skop 24 September, op Erfenisdag, in Hermanus af en die SABC het bevestig hy gaan sommige wedstryde uitsaai.
Dr. Annelie Rabie, die Overstrand-burgemeester, sê toernooie soos hierdie bied ’n wonderlike platform om gemeenskappe byeen te bring.
Arnie Africa, raadslid van wyk 8 en die burgemeesterskomiteelid vir bestuursdienste, het Bennie van Rooi, die president van die Boland-rugbyunie, en sy afvaardiging bedank vir hierdie inisiatief om rugby ná die inperking weer aan die gang te kry.
Ronald Nutt, die wyk 4-raadslid en burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste, het bygevoeg die toernooi sal verder bydra tot die ontwikkeling van klubrugby en spelers. “Die Overstrand sien daarna uit om die eerste wedstryd op Erfenisdag aan te bied,” het hy gesê. “Ons moedig die spanne aan om hul beste te lewer en dit in die gees van goeie sportmanskap te doen. Die belangrikste is egter om pret te hê en die kameraadskap onder mekaar te geniet.”
Jerome Marthinus, voorsitter van Black Bird RFC, voel die toernooi sal goeie blootstelling wees vir spelers wat die spanne haal. “Die toernooi is ’n geleentheid vir spelers om raakgesien te word,” het hy bygevoeg. . Spanne of borge wat graag deel van die toernooi wil wees, kan Marquine Lucas by 082 434 1564 of marquinelukas1@gmail.com kontak.