Die Hermanus-polisie het ’n dringende beroep op die gemeenskap van Hawston gedoen om hulle te help met inligting wat tot die inhegtenisneming van ’n moordverdagte kan lei.
Die verdagte word gesoek in verband met die moord van ’n jong man wat Sondagaand 15 Mei koelbloedig doodgeskiet is.
Kaptein Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, het bevestig die moord het op die hoek van Fisher- en Gahlstraat in die nuwe uitbreiding in Hawston plaasgevind.
“Die liggaam van die 26-jarige oorledene het verskeie skietwonde gehad. Hy is op die toneel dood verklaar. Die motief vir die moord is in hierdie stadium nog onbekend,” het September gesê.
Die polisie kon nie gerugte bevestig dat die jong man, wat op sosiale media as Christiaan “Jan” Snyders geïdentifiseer is, onlangs uit die tronk vrygelaat is nie.
Enigeen met inligting word gevra om Hermanus-polisie by 028 313 5300 of die ondersoekbeamptes by die Hermanus-speurtak tydens kantoorure by 028 313 7000 of 10111 te skakel.. September het die versekering gegee dat alle inligting as vertroulik hanteer sal word.