Al is dit sy debuutroman, het Pieter Henning se Mamba die tonge behoorlik los.
Pieter is Woensdag 26 Februarie by die Hermanus-biblioteek in gesprek met Susan Booyens oor sy debuutroman.
Dié belowende skrywer is in Pretoria gebore en het in Pietermaritzburg grootgeword. Ná matriek het hy veekunde aan die Universiteit van Pretoria studeer. Met sy studies en twee jaar se militêre diensplig agter die rug, het hy hom in 1980 in Pretoria gevestig en ’n loopbaan as professionele veekundige begin, waarna hy in Maart 2020 hy amptelik afgetree en sy beroep deeltyds as vryskutveekundige voortgesit het.
“Ek is van my vroegste jare af, toe ek as standerd 1-kind tussen die hoë boekrakke van die Pietermaritzburg-biblioteek rondgedwaal het, baie lief vir lees – veral fiksie. Saul Bellow het op ’n keer gesê: ‘A writer is a reader moved to emulation’. Dit was inderdaad met my die geval,” het Pieter gesê.
Êrens uit dié liefde vir lees het ’n droom ontstaan om self eendag ’n roman te skryf en Mamba is die produk van daardie droom – maar nie die eindproduk nie. Pieter is reeds besig met ’n tweede roman, wat beoog om die verhaal van Adriaan Botha verder te neem.
Mamba: Dit is die verskyning van die slang wat die duiwel losgelaat het. Tog het die moeilikheid reeds vroeër begin . . .
Adriaan Botha, ’n losloper-argitek, besluit om die land te verlaat. Hy stel sy plan uit ten einde ’n hoëprofielprojek te voltooi.
Intussen erf hy ’n Bosveldplasie by ’n oupa wat hy nooit geken het nie. Terwyl hy sukkel om die nuus te verwerk, dwing ’n voorval met die kliënt se vrou hom om die stad inderhaas te verlaat.
Vergesel deur sy geliefde hond gaan skuil hy op die plaas in ’n afgeleë hoek van die Waterberge en spoedig raak hy al hoe vaster verstrik deur ’n sameloop van onverwagse gebeure.
As hy maar net vroeër rigting gekry het! Hoe de hel gaan hy lewend hieruit kom? Sy oupa kon hom netsowel ’n tuimeltrein nagelaat het.
Die gesprek tussen Pieter en Susan vind Woensdag 26 Februarie om 18:00 by die Hermanus-biblioteek plaas.
Bring gerus iemand saam. Wyn en peuselhappies sal voorsien word. . RSVP voor 21 Februarie by Janine by 083 327 3393 of stuur ’n e-pos-boodskap na janine@jdoublepublicity.co.za