Die besnoeiing van onderwysposte in die Wes-Kaap gaan nie net onderwysers raak nie, maar ook leerders.Foto: Netwerk24


Met klaskamers wat tot oorlopens toe vol is, onderwysers wat ander heenkome oorsee gaan soek en leerders wat aan die kortste ent trek, is die aankondiging dat onderwysposte besnoei gaan word, wyd met skok begroet.

Die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het onlangs aangekondig dat ’n tekort van sowat R3,8 miljard sal lei tot die besnoeiing van byna 2 400 kontrakposte.

In ’n verklaring verduidelik die departement slegs 64% van sy begroting is deur die nasionale departement van basiese onderwys goedgekeur. Ten spyte van die besnoeiing van sy begroting wat administratiewe dienste, die kurrikulum en infrastruktuur insluit, was dit steeds nie genoeg om op te maak vir die gebrek aan geld nie.

Die WKOD het in Januarie aangekondig hy sal nie net hard baklei om leerders in skole te kry nie, maar ook om skole teen ’n vinniger tempo te bou.

David Maynier, die Wes-Kaapse minister van onderwys, het in Januarie gesê die departement doen alles in sy vermoë om skole teen ’n vinniger tempo te bou deur sy “Vinnige skoolbou-program” ten spyte van die massiewe knou van R716,4 miljoen uit die onderwysbegroting in die provinsie.

“Ons amptenare en kontrakteurs het deur die vakansie gewerk om te verseker dat ons die aantal plekke beskikbaar het vir die leerders vir wie ons reeds aansoeke ontvang het,” het hy in Januarie in ’n persverklaring gesê. Altesaam 10 nuwe skole en drie vervangingskole sal volgens hom vanjaar gebou word.

Oor die situasie waarin die Wes-Kaap hom nou bevind, het Maynier gesê: “Die departement moes nooit in hierdie posisie geplaas gewees het nie en ons sal alles in ons vermoë doen om vir ons onderwysers te baklei.”

Hy sê verder die besnoeiing van kontrak-onderwysers kan ook daartoe lei dat sommige permanente onderwysers gevra kan word om na ’n ander skool te skuif waar ’n geskikte vakature oop is.

Makanatsa Ziyambi van Equal Education meen die publiek moet druk op die nasionale en provinsiale onderwysdepartemente uitoefen om hul grondwetlike verpligtinge teenoor leerders na te kom. “Hierdie besnoeiing van 2 703 poste is nie net syfers nie – dit is bestaande poste. Minder onderwysers vir meer leerders sal ’n langdurige negatiewe uitwerking op leerders se opvoeding hê. Oorvol klaskamers is reeds ’n probleem wat as gevolg van die ­besnoeiing verder sal eskaleer,” sê Ziyambi.

Sy sê dit is veral leerders van skole sonder skoolfooie waar die gehalte van onderrig daaronder sal ly.

Die WKOD het ook ’n lys bekend gemaak van die streke wat die meeste geraak gaan word en daarvolgens gaan 117 poste in die Overberg besnoei word.

Hermanus Times het met van die plaaslike skole in die Overberg oor die aankondiging gesels.

“Dit is nie die skool, onderwyser of regering wat daaronder gaan ly nie, maar die kinders. Skokkende statistieke oor graad vier-leerders wat nog nie kan lees nie en wiskunde wat nou nie die gunstelingvak onder leerders is nie, maak hierdie situasie nog moeiliker. As ’n mens na die top-10 skole in die land kyk, is daar nie een skool uit die agtergeblewe gemeenskap wat deel van die topskole is nie. Waarom nie? Die antwoord is eenvoudig – skole in die agtergeblewe gemeenskap het nie die geld om top-onderwysers te lok nie en ook nie om beheerliggaamposte daar te stel nie. En wat gaan dit beteken? Dat die skole geraak gaan word deur die besnoeiing en dan net meer en meer agteruitgaan terwyl die leerder se agterstand nooit uitgewis kan word nie,” het ’n onderwyser van Grabouw gesê.

Volgens dié onderwyser het hulle elke dag te doen met leerders wat spesiale aandag moet kry sodat hulle, as hulle die skool verlaat, darem ’n bydrae tot die samelewing kan maak. “Vir baie van die onderwysers is onderwys ’n passie en gaan dit nie oor die salaris nie. Dit breek ons harte dat ons nie die nodige aandag aan daardie leerder, wat spesiale aandag verg, kan gee nie aangesien ons klasse te vol is. Wat gaan hulle nou maak as poste besnoei gaan word en wat gaan van daardie leerders word?” vra die betrokke onderwyser.

Vir die skole in Botrivier was die nuus ook skokkend. Nie net is daar ’n tekort aan skole in die dorp nie, maar nou gaan van die onderwysers ook in die slag bly.

Hermanus Times het op 24 Januarie 2023 berig oor die probleme rakende skole in die dorp (Ouers ruk op oor probleme). Daarin is berig dat Botrivier Primêr net tot graad agt gaan en dat die skool se infrastruktuur ook nie veel te wense laat nie.

“Ons dorp het van die beste onderwysers. Iemand soos Christine Bester van Botrivier Primêr is hierdie jaar die Wes-Kaapse wenner vir uitnemendheid in laerskoolonderrig. Maar as poste besnoei gaan word, gaan sulke onderwysers se druk net meer word en dan staar hulle ook uitbranding in die gesig. Daar is so baie van ons hoërskoolleerders wat van openbare vervoer gebruik moet maak om hulle by skole in Caledon en Grabouw te kry, en partykeer laat die openbare vervoer hulle in die steek ook. Nou het hulle nog ’n probleem wat hulle in die gesig staar, en dit is ’n onderwysertekort en nog voller klaskamers,” het ’n inwoner van Botrivier gesê.

Van die skole is ook van mening dat maniere vir hulle om vir die tekort aan personeellede op te maak, is om meer beheerliggaamsposte te skep of om die nodige geld in te samel om self vir kontrak-onderwysers te betaal, met albei opsies wat groter finansiële druk op skole plaas.

“Hierdie opsie kan werk vir skole waar skoolfonds gereeld betaal word, maar vir skole wat sukkel om kop bo water te hou, is dit nie moontlik nie. Daar gaan nou net ekstra druk op ons as onderwysers geplaas word om te sorg dat die gehalte van onderwys steeds goed bly en dat ons daar is vir die leerders,” het ’n skoolhoof van die Overberg gesê.

Wat die besnoeiing nog verder kan beteken, is die boodskap aan huidige onderwys-studente dat daar nie genoegsame werksgeleenthede vir hulle is nie. “In daardie geval verloor die land vele kundige, jong onderwysers wat eerder werksgeleenthede in die buiteland gaan soek,” meen hy.

You need to be Logged In to leave a comment.