Kommer oor verdrinkings in Overstrand

Kan planne gemaak word? Moet beter waarskuwingsborde opgerig word? Kleinmond moet ’n openbare swembad kry.


Kan planne gemaak word? Moet beter waarskuwingsborde opgerig word? Kleinmond moet ’n openbare swembad kry . . .

Dit is maar net van die kommentaar wat gelewer is nadat die Overstrand (spesifiek Kleinmond en Bettysbaai) die afgelope week om die verkeerde redes in die nuus was nadat drie mense verdrink het.

’n Duiker van Bettysbaai is verlede Maandag (26 September) as vermis aangemeld nadat hy by Draadbaai gaan duik het. Bemanning van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Maandag al na die duiker begin soek. Die soektog is Dinsdag en Woensdag voortgesit, maar sonder enige sukses.

Sirenes het die afgelope Sondag in Kleinmond afgegaan en dit het behoorlik op sosialemediaplatforms gegons oor wat in die kusdorpie aan die gang is.

Volgens die NSRI het ’n 17-jarige skoolseun Sondag (2 Oktober) om 14:14 verdrink. Die seun, wat van Montagu is, was glo deel van ’n skoolgroep wat die naweek in Kleinmond tuisgegaan het. ’n Helikopter sowel as die NSRI is ingeroep om na die seun te soek, maar sonder enige sukses.

Terwyl die soektog na die seun voortgesit is, het die NSRI om 15:47 nog ’n oproep ontvang oor ’n voorval by die Palmietriviermond waar ’n sewejarige meisie saam met maats in die strandmeer gespeel en verdrink het. Volgens die NSRI is die meisie ook nog nie gevind nie en het hulle Maandag die soektog na die seun en meisie voortgesit.

Teen druktyd is nog geen tekens van die seun en meisie opgespoor nie.

Dié verdrinkings en die somer wat om die draai is, het baie inwoners hul kommer oor die tyd van die jaar laat uitspreek.

“Met dié onlangse voorvalle en die Desembervakansie wat op hande is, is dit duidelik dat na ander alternatiewe planne gekyk moet word vir lafenis.

“Wanneer gaan Kleinmond ’n openbare swembad kry?” het een van die inwoners op Facebook gevra.

’n Ander inwoner het gewonder of meer menseredders nie op die strand moet diens doen nie.. Intussen het ’n inwoner, wat Sondag omstreeks 10:44 met sy hond op die hoofstrand van Kleinmond gestap het, op ’n lyk afgekom.

Volgens die polisie kan hulle nog nie in hierdie stadium bevestig of dit die lyk van die duiker is nie aangesien hy nog nie uitgeken is nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.