Koningin van die skaakbord

Samantha Brink, ’n graad 7-leerder aan die Laerskool Overberg in Caledon en wat pas haar 13de verjaardag gevier het, is vir die SA skaakspan gekies om in haar ouderdomsgroep aan die Afrika-jeug-skaakkampioenskap in Lusaka, Zambië, deel te neem. Sy is


Samantha Brink, ’n graad 7-leerder aan die Laerskool Overberg in Caledon en wat pas haar 13de verjaardag gevier het, is vir die SA skaakspan gekies om in haar ouderdomsgroep aan die Afrika-jeug-skaakkampioenskap in Lusaka, Zambië, deel te neem. Sy is die enigste deelnemer in haar ouderdomsgroep uit die Overberg wat gekies is om haar skuiwe te gaan maak.

Dit was blote toeval dat Samantha op sewejarige ouderdom begin skaak speel het. “Ek het bietjie afgedwaal. Ek was op pad na ’n wiskundeklas toe ek afdwaal en een van my vriende na ’n skaakklassie in die saal volg. Ek het daar en dan begin speel en daardie naweek aan my eerste toernooi deelgeneem, waar ek die tweede plek behaal het.”

Samantha het al aan baie kompetisies deelgeneem, en baie van hulle gewen. In 2017 het sy aan die jeugkompetisie in Indië deelgeneem en in 2019 in Namibië. Om lid te wees van die SA span, wat in Zambië gaan deelneem, het harde werk geverg. Sy is in Maart genooi om aan die SA geslote kampioenskap in Johannesburg deel te neem, waar sy oor sewe dae aan 11 rondes deelgeneem het.

Skaak hou gewis voordele in, sê Samantha: “Ek is iemand wat baie in die klas sukkel om te konsentreer, maar skaak help my om meer gefokus te wees. Dit is baie soos wiskunde, want jy moet dink daaroor. Dit het my skoolwerk in die algemeen gehelp en verbeter.”

Tydens die Covid-inperkings moes baie toernooie noodgedwonge aanlyn gespeel word. “Dit is nie vir my so lekker soos die intimidasie en die spanning om in lewende lywe met ’n opponent voor jou te speel nie. Jy raak gewoond daaraan, maar ek verkies ‘oor-die-bord’-skaak.”

Op ’n vraag aan haar ma, Mariëtte Pretorius, of hulle by die huis skaak speel, antwoord sy: “Ek weet hoe om te speel en ken nou die reëls, maar speel glad nie. Sam sal ook sê sy mors haar tyd om teen my te speel. Ons is verskriklik trots op haar. Haar toewyding en die ure wat sy insit en hoe opgewonde sy oor skaak is, is vir my ongelooflik.”

“Samantha het ’n goeie gesindheid. Skaak het haar so mooi geleer. Of sy nou wen of verloor – sy gee nie op nie. Sy gee ook terug. Sy het nou by die laerskool begin om die kleintjies af te rig, want die skool het niemand wat hulle kan leer om skaak te speel nie.”

Oor ander belangstellings antwoord Samantha:” Ek het in ’n stadium klavier gespeel, maar het dit nou vir eers gelos, want skaak is vir my belangriker en dit neem baie tyd in beslag.”

Samantha se gunstelingkos is mac and cheese en sy wil graag ’n marine-bioloog word. “Ons het baie akwarium toe gegaan en ek het nog altyd ’n belangstelling daarin.”

Sy noem ook dat volwassenes haar dikwels uitdaag vir ’n potjie skaak, en met ’n groot glimlag sê sy: “Ek wen altyd teen hulle.”

Sy sien geweldig uit na Lusaka, en om die uitgawes vir die reis daarheen ’n hupstoot te gee, het hulle onlangs ’n baie geslaagde pannekoekverkoping gehad en ook heerlike kolwyntjies gebak om te verkoop.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.