’n Polisieman van Kleinmond het in die hof verskyn nadat hy sy swanger vrou na bewering met ’n gholfstok aangerand het.

Dié skokkende voorval het na bewe­ring voor die paartjie se agt maande oue baba, wat in die vrou se arms was, en vierjarige kind plaasgevind.

Die aanval op die vrou, sê ooggetuies, het voortgegaan selfs nadat die polisie op die toneel opgedaag het. Hulle het hul kollega egter vinnig kalmeer en in hegtenis geneem.

Volgens twee betroubare bronne was die beampte glo die dag van die voorval siek. “Maar hy was na bewering onder die invloed van drank toe hy sy vrou geslaan het,” het een beweer.

Adjudant-offisier Martin Mostert, Kleinmond-polisie se woordvoerder, het bevestig dat die konstabel Dinsdag 24 Januarie in hegtenis geneem is op ’n klag van aanranding. Mostert het bygevoeg dat ’n aanklag van intimidasie tot die klagstaat gevoeg is. Dié aanklag, sê hy, is bygevoeg nadat die konstabel na bewering dreigemente teenoor die ondersoekbeampte gemaak het terwyl hy in aanhouding was.

“Die saak is na die direkteur van openbare vervolging se kantoor verwys sodat hulle kan beslis of die klag van gewone aanranding na aanranding met die doel om ernstig te beseer verander moet word,” het Mostert verduidelik.

Mostert het bevestig dat die slagoffer by ’n vorige geleentheid ’n klag van aanranding met die doel om ernstig te beseer sowel as ’n tussentydse beskermingsbevel teen haar polisieman-gade teruggetrek het.

Die saak teen die polisieman is tot Dinsdag 8 Maart uitgestel.

Brigadier Donovan Heilbron, bevelvoerder van die polisie in die Overberg-kluster, het bevestig ’n interne ondersoek na die voorval word ook gedoen. Die beampte is tans op verlof. Vervolg op bladsy 2

You need to be Logged In to leave a comment.