Die kopstampery tussen die noordwes- en die noordoos-weerskante van die land wil maar net nie end kry nie, maar aan die einde van die dag is dit dalk die beste ding wat nou met die winterreënvalgebiede van die Suidwes-Kaap kan gebeur. Só reken Langfaan en hy wil nou nie “oneerbiedig” wees nie, maar genoeg is genoeg en as dit só aangaan, word die wynlande van die Kaap ‘n yslike pappery. Genadiglik is die Indiese hoogdruk nog baie diep in die arktiese waters en dit kan keer dat geweldige sterk hoogdrukke dan vir verdere konveksie binne bereik van die Weskus kom. Dit is skrikwekkende sterk winde en storms wat tans in die arktiese waters aan die woed is.
Vroeg in die week het een van die storms knap suid van Gough verbygetrek en skeepsvaart letterlik tot stilstand gebring terwyl die oog van die Indiese hoogdruk soos ‘n broeis hoender op Marion gaan sit het. Konveksie aan ons Weskus is omtrent heeltemal uitgeskakel. Die stert van die noordoos swiep egter teen Saterdag oor ‘n groot deel van die suide van die land en die Overberg kry weer ‘n paar druppels. Die weer kom dan uit die noordooste wat altyd warmer is.
Die nagtemperature behoort dan nie onder 12 °C te daal nie. Saterdag deur die dag is dit heerlike sonskyn en ‘n perfekte dag vir bietjie rondstap terwyl die damme nog voller loop. Soos gewoonllik is dit die nadraai van die botsings tussen die hoogdrukke wat uitmekaar beweeg en koue lug uit die suide sal insuig, waarvoor Overstranders maar moet voorberei. Dit kan Maandagoggend, terwyl die son lekker skyn, tot 8 °C daal. Met ‘n hupstootjie van die noordwes kan ons dan Woensdag weer so 2 mm neerslag in die Overberg verwag.
Benewens die newe-efekte van die pandemie, lyk dit of die wynboere ‘n stryd het om met die snoeiwerk tred te hou. Veral in die omgewing van Stellenbosch is dit een pappery op die ander en die paaie in die wingerde op plekke onbegaanbaar. Te midde van die damme wat heelwat voller is as verlede jaar, waarsku die langtermynmanne wat na klimaatsverandering kyk, dat die droogte, selfs ná die Oos-Kaapse storms, geensins gebreek is nie nie. En soos in die Wes-Kaap word voedselproduksie ‘n ernstige knou toegedien. Volgens Weerhaan se berekeninge lyk dit steeds of die suidelike gebiede van die land ‘n baie moeilike Augustus tegemoet gaan. Kos kan nog skaarser word.