’n Begrafnisondernemer, ’n radiostasie en ’n internet-verskaffer het hande gevat en ’n inisiatief aan die gang gekry ten bate van rondloperdiere.
Op 18 en 24 Februarie het CFM Wireless, Caledon FM en Anré-begrafnisdienste in Hermanus en Kleinmond kat- en hondekos ingesamel as deel van die Feed-a-Stray-veldtog by Hermanus Animal Welfare Society (Haws) en Kleinmond Animal Welfare Society (Kaws).
Debbie Watson van Caledon FM sê op dag een het hulle 410 kg se honde- en katkos ingesamel. Dis egter op dag twee in Kleinmond wat alle verwagtinge oortref is toe daar meer as 1 500 kilogram honde- en katkos ingesamel is.
“Dit was ’n ongelooflike dag. Mense het van Hermanus, Bettysbaai, Caledon, van oral af gekom. As ’n mens dink dat ons eers die dag voor die tyd uitgevind het van die veldtog en hoe vinnig die mense reageer het en kom aflaai het. Elkeen het ingespring. Ek wil Caledon FM bedank dat hy Kaws deelgemaak het van die veldtog. Kleinmond het die rekord gestel, kom ons sien of ander dit kan breek,” sê Grant Cohen, raadslid van Kleinmond.
Pieter Visser die algemene bestuurder by CFM Wireless, sê hy het hoendervleis as hy dink hoe almal ingespring en kat- en hondekos afgelewer het. “Mense moet onthou ons gaan al die dierekos wat ingesamel is aan diere in nood in die Overberg uitdeel. So as ons meer insamel in een dorp, beteken dit nie die dorp gaan dan meer dierekos kry vir hul diere as ’n ander dorp nie.”
Watson bedank die spanne by Haws en Kaws en sê raadslid Cohen was tops en het hulle so mooi gehelp om mense in te lig van die veldtog.
Die week is die veldtog in Gansbaai en almal in Gansbaai word aangeraai om dierekos te kom skenk en te kyk of Kleinmond se rekord gebreek kan word. Aan die einde van Februarie gaan al die kat- en hondekos uitgedeel word aan rondloperdiere in die Overberg.