Asof beurtkrag en die skielike koue nie genoeg is nie, was gedeeltes van die Overberg dié naweek vir meer as 24 uur sonder elektrisiteit.
Volgens die Theewaterskloof-munisipaliteit (TWK) het ’n kraglyn Vrydag in Greyton gebrand. Die munisipaliteit het in ’n persverklaring verduidelik dat hulle moes wag vir die tegnici van Eskom om van Kaapstad te kom om met herstelwerk te begin. In die verklaring wat Vrydag uitgereik was, was ook genoem dat daar gewag was op Eskom-spanne om ’n fout te herstel wat omstreeks 15:45 op die 66 000-voltbreker by Houw Hoek plaasgevind het.
Greyton, Botrivier, Caledon, Myddleton, Tesselaarsdal, Genadendal, Bereaville, Voorstekraal asook Boschmanskloof tot by Helderstroom is deur die fout geraak.
Die meeste van die inwoners het die lof van die munisipaliteit besing aangesien hy almal op hoogte gehou het, maar toe die toevoer nie om 20:00 aangeskakel word nie, het van hulle begin rooi sien.
“Dit was alles goed en wel, ons is darem gewoond aan beurtkrag, maar toe dit 20:00 word en ons is steeds sonder elektrisiteit was dit nie meer lekker nie. Nie almal van ons het omsetters en kragopwekkers nie, ons kon nie ons selfone herlaai nie. Wat van die mense wat aan suurstof gekoppel is?” het een van die inwoners gewonder.
Die munisipaliteit het wel die hele tyd die inwoners op hoogte gehou, maar teen Sondagmiddag was hulle briesend. TWK het ook laat weet dat hy voortdurend met Eskom in verbinding is.
“28 uur later het ons krag uiteindelik aangekom,” het die Hermanus Times-korrespondent in Caledon, Mitzi Buys, laat weet.


