Die Caledon-krieketklub het onlangs sy nuwe bestuur gekies.
Dié klub het ’n ryk geskiedenis. Die destydse Cleveland-krieketklub en die Caledon-span het in 1991 saamgesmelt om die Caledon-span te vorm. Hierdie gekombineerde span was in die 1991-’92-seisoen die wenners van die Boland se Eerste Liga.
Dertig jaar later het die huidige span weer geskiedenis gemaak deur die 2021-’22-Overberg se eerste divisie se 50-beurt-, sowel as die T20-beker, te wen.
’n Vrouespan het ook vir die eerste keer aan die kompetisie deelgeneem.
Dit het nie altyd so voorspoedig met die klub gegaan nie en in die laat 1990’s is die klub weens ’n gebrek aan ondersteuning ontbind. Die klub is egter in 2002 hervestig en gaan die afgelope 20 jaar al van krag tot krag.
Voordat die klub ontbind is, was Cecilia Adams die laaste vroulike lid van die bestuurspan en het as tesourier gedien. Sy is steeds een van die klub se grootste ondersteuners. Haar man, Paul Adams, is die ondervoorsitter, en hul seun Viv Adams speel vir die klub. Emile Smith is as spanbestuurder aangewys.
Vier vroue is by die jaarvergadering op 22 Julie tot die bestuur verkies, van wie Es-Claudia Arendse die jongste is. Sy is ’n graad 12-leerder aan Swartberg Sekondêr en ook die kaptein van die vrouespan.
Die klub het verskeie geldinsame-lingsprojekte van stapel gestuur, waarvan lootjieverkope vir fantastiese vleispryse tans aan die gang is. Lootjies teen R10 elk kan by spelers en bestuurslede gekoop word. Vleispakke ter waarde van onderskeidelik R1 000, R300 en R200 is op die spel. Die trekking sal op 1 Oktober tydens die eerste vriendskaplike wedstryd tuis teen Robertson regstreeks op Facebook gestroom word.
Lenotre Sauls, die spankaptein, sê die span is gemotiveerd en almal sien uit na die nuwe seisoen. Die eerste vriendskaplike wedstryd is teen Robertson op 1 Oktober en die eerste ligawedstryd teen Riviersonderend op 22 Oktober op dié span se tuisveld gespeel word. Die klub nooi belangstellendes om die wedstryde by te woon.