Terwyl amptenare van die Theewaterskloof-munisipaliteit spog oor ’n swembad vir Villiersdorp, kry inwoners van Rooidakke in Grabouw baie swaar.
Nie eens ’n maand gelede nie het dié inwoners vir weke aaneen geen water gehad nie en toestande in die buurt is behoorlik haglik.
Motors kan skaars op die paaie ry en vullis lê oral op die oop stuk veld buite Rooidakke asook in die buurt self gestrooi. “Dit voel asof ons buurt aan die agterspeen suig. Eers het ons nie water gehad nie, en kyk nou die toestand van ons paaie en buurt. Dis onaanvaarbaar, en die munisipaliteit moet iets hieraan doen,” het een inwoner gesê.
’n Ander inwoner, wat nie sy naam genoem wil hê nie, vertel dat ’n mens oor naweke skaars in Rooidakke kan ry. “Oor naweke is dit behoorlik ’n nagmerrie om die paaie te gebruik.
“Taxi’s blokkeer die paaie en ons kan hulle nie verbysteek nie, aangesien van die paaie glad nie toeganklik is nie. Die slaggate is so diep dit sal permanente skade aan jou voertuig aanrig,” het ’n inwoner gesê.
“Verder voel dit vir ons as inwoners of ons geld nie goed genoeg vir die TWK is nie. Ek weet hier is mense wat glad nie belasting en ook glad nie vir water en elektrisiteit betaal nie, maar hier is ook mense wat trots daarop is om in Rooidakke te woon en belasting, krag en water betaal. Waarom word ons afgeskeep?” vra die ontstoke inwoner.
Hermanus Times het twee weke gelede vrae rakende die situasie aan die TWK gestuur, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie.