Die personeel en die inwoners van Izibusiso-weeshuis kon nie hul opgewondenheid keer toe die vroue van Lighthouse 2 Lighthouse hulle besoek nie.
‘n Paar maande gelede het L2L liefdadigheidsorganisasies in die Overstrand gevra om hulle te kontak rakende finansiering en hulp. Altesaam 20 liefdadigheidsorganisasies het aansoek gedoen om een van L2L se begunstigdes te wees.
Volgens een van die organiseerders van L2L het hulle die liefdadigheidsorganisasies gevra om ‘n kort video te maak oor hul projek en waarom hulle finansiering nodig het. “Die 160 vroue wat geregistreer het om deel van die staptog te wees het net ses dae gehad om na al die video’s te kyk. Met ‘n motor vol balonne het ons na Izibusiso in Hermanus gegaan om hulle mee te deel dat hulle die gelukkige begunstigdes is,” vertel sy.
Volgens haar beteken Izibusiso seëninge in Xhosa en is dié liefdadigheidsorganisasie in 2009 deur die Hermanus-kindersorg en die United Churh gestig. “In 2021 het die liefdadigheidsorganisasie onafhanklik begin funksioneer en vandag huisves die weeshuis babas van geboorte af tot ses jaar. Hulle plan is om uit te brei sodat hulle meer kinders kan huisves,” vertel die organiseerder.
Huis Lettie Theron het die tweede meeste stemme gekry en Hermanus Animal Welfare derde.