Talle mense het hul medelye op sosiale media gedeel nadat een van Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl se mees geliefkoosde en gewildste oud-onderwyseresse, Marianna Schoeman, die afgelope Donderdag (12 Junie) oorlede is.

Volgens ‘n Facebook-plasing van die skool is Schoeman, of “juffrou Schoemie” soos sy in die skoolgemeenskap bekendgestaan het, op 12 Junie oorlede.

Die Paarl Post het in Maart 2023 ‘n artikel oor dié geliefde onderwyseres geskryf toe sy ná meer as 45 jaar by La Rochelle die tuig neergêle, en afgetree het.

Schoeman het diep spore getrap in die bevordering van sport by die skool, en het in Januarie 1978 by La Rochelle begin skoolhou en in Februarie 2023 afgetree, het die Paarl Post voorheen berig.

Schoeman het in Gqeberha grootgeword waar sy haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Pearson voltooi het. Ná skool het sy ’n vierjaarkursus voltooi in liggaamlike opvoeding aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth.

Schoeman was haar hele lewe lank aktief en het ’n groot liefde vir sport gehad.

Voordat sy sport begin afrig het, was sy ’n kampioenatleet. “Ek was ’n provinsiale atleet en netbalspeler en het ook vir die SA universiteite se netbalspan gespeel. Ek was ook ’n provinsiale netbalskeidsregter,” het sy destyds aan die Paarl Post vertel.

Toe sy by La Rochelle begin werk het, het Schoeman haar dadelik begin toespits as atletiekafrigter. “Atletiek en sport oor die algemeen het baie gevorder sedert ek daar (by La Rochelle) begin het. Aanvanklik het ek alleen al die items afgerig. Ek het ook die skool se eerste netbalspan afgerig.”

Buiten haar betrokkenheid by sport het sy ook Afrikaans eerste addisionele taal vir leerders van gr. 8 tot gr. 12 onderrig.

Die Hoër Meisieskool La Rochelle skryf op hul Facebook-blad: “Schoemie, soos sy met liefde deur personeel en vriende genoem is, was ‘n bekende en geliefde gesig by HMS La Rochelle. Haar toegewydheid, hartlikheid en opregte liefde vir die skool en almal wat daardeur geraak is, sal altyd onthou word. Sy het elke dag lig gebring met haar humor en vriendelikheid — ‘n ware voorbeeld van iemand wat haar roeping met oorgawe uitgeleef het. Aan haar familie betuig ons ons innige simpatie en gebede. Mag julle vertroosting vind in die kosbare herinneringe en die wete dat sy soveel lewens verryk het. Die Larries groet met dankbaarheid en heimwee. Ons gaan jou baie mis, Schoemie.”

You need to be Logged In to leave a comment.