Hoërskool Bredasdorp is baie trots op die feit dat twee onderwysers en drie leerders die 109 km van die Kaapstad-fietstoer in nat toestande suksesvol afgelê het. Ten spyte van die eendeweer het hulle dit baie geniet. Müller Retief (die skoolhoof) het sy 22ste en JP Terblanche sy derde Kaapstad-fietstoer voltooi. Dian Fourie, ’n gr. 9-leerder, en John Dunn (gr. 11) het dit ’n tweede keer aangedurf. Minke du Toit (gr. 10) het haar heel eerste Kaapstad-fietstoer saam met haar pa, Pieter, gery en dit ook baie geniet. Bo is JP Terblanche, Dian Fourie en John Dunn.