‘n Sewe maande oue labrador is die naweek dood aangetref nadat sy na bewering gesteel en vir ‘n hondegeveg teen ‘n Amerikaanse veghond gebruik is.
Wat die situasie nog meer ontstellend maak, is die feit dat die kwaaddoeners die dooie hond naby die eienaars se huis gestort is. Caleb Oliphant, wie se gesin Bailey die labrador aangeneem het toe sy een maand oud was, sê hulle is oorweldig deur die ondersteuning van die gemeenskap, maar hartseer oor Bailey se dood.
Sosiale media het gegons oor dié voorval en foto’s van Bailey is oral gedeel. Volgens Oliphant is Bailey Vrydag 28 Januarie uit hul erf in Hawston gesteel. Haar karkas is gister (30 Januarie) 600 m van die familie se woning af ontdek. “Drie minderjariges het haar gesteel en sy is glo gedwing om teen ‘n Amerikaanse veghond in ‘n onwettige hondegeveg te baklei,” sê Oliphant.
Dr. Annelie Rabie, burgemeester van Overstrand-munisipaliteit, sê die dood van Bailey het beklemtoon hoe belangrik geregtigheid vir diere is. “Iets moet aan die diefstal en mishandeling van honde gedoen word. Ek is oorval met inligting rakende onwettige hondegevegte en honde wat as ‘n ruilmiddel vir smokkelary gebruik word. Die Overstrand-munisipaliteit se direktoraat beskermingsdienste het reeds ‘n saak aanhangig gemaak. ‘n Ervare ondersoekspan is besig met wat die ‘Bailey’-dossier genoem sal word,” sê Rabie.
Oliphant kan in die stadium geen verdere inligting gee nie, want hy is bang dit belemmer die wetstoepassers se ondersoek. “Ek wil egter van die geleentheid gebruik maak om Norah Hudson, Wilna Hendriks en Leigh Bouwer te bedank vir die deel van inligting oor Bailey op Facebook wat ons uiteindelik gehelp het om Bailey te vind.”
“Dit is van uiterse belang dat mense met inligting na vore sal kom oor onwettige aktiwiteit waar diere betrokke is. Intussen sal ek hierdie saak fyn dophou en gereelde terugvoer van die betrokke direktoraat gee,” sê Rabie.
Die Oliphants beskryf Bailey as ‘n lieflike hondjie. “Sy het ons net as ‘n gesin vertrou en was nie regtig entoesiasties oor enige nuwe besoekers nie. Dit het ons ‘n rukkie geneem om haar vertroue te wen. Sy was regtig ‘n spesiale siel en het altyd daardie ekstra bietjie sjarme en komedie by ons gevoeg. Daar sal altyd iets in ons gesin ontbreek en ons sal haar vir altyd mis,” sluit Oliphant af.