’n Opgewonde groep van 58 jong rugby-, netbal- en hokkiespelers van die Laerskool Gene Louw in Durbanville het van 7 tot 8 Augustus hul heel eerste sporttoer meegemaak en die Overberg en die Breëriviervallei besoek.
Die seuns en meisies in die o.9A- en B-spanne het in Hermanus teen Curro Hermanus en die Laerskool Hermanus kragte gemeet. Hoewel die toer suksesvol was wat uitslae betref, lê die grootste waarde in die algehele ervaring, sê Daniël Blom, ’n rugbyafrigter en finalejaaronderwysstudent by die Laerskool Gene Louw wat die o.9-toer vanjaar vir die derde keer vergesel het. “Vir die leerders is dit ’n voorreg om op so ’n jong ouderdom op ’n sporttoer te kan gaan waar kameraderie en spangees eerste gesit word bo die resultate,” het hy vertel. “Ons kan werklik ’n verskil in ons spel sien ná ’n toer soos die.”
DIe Laerskool Gene Louw se sportbestuurder, Surita Roberts, het die skool se waardering vir die wyse waarop die groep deur hul gashere ontvang is, beklemtoon en gesê: “Hulle is met ope arms verwelkom en die gees was lekker by elke skool wat hulle besoek het. Ons sê dankie en hoop om volgende jaar weer so te maak.”


