Langasems blink uit

Hulle het dalk nie goeie oefengeriewe of -toerusting nie, maar die landloopatlete van Mispah Skool in Elim het talle ander atlete in die stof laat byt om by die Wes-Kaapse departement van sport en kultuur se provinsiale sport-prysuitdeling as die bes


Hulle het dalk nie goeie oefengeriewe of -toerusting nie, maar die landloopatlete van Mispah Skool in Elim het talle ander atlete in die stof laat byt om by die Wes-Kaapse departement van sport en kultuur se provinsiale sport-prysuitdeling as die beste ontwikkelende span aangewys te word.

“Ten spyte daarvan dat hulle nie voldoende geriewe het nie, het dit nie hierdie atlete van stryk gebring nie. Die landloopspan het ’n baie suksesvolle seisoen agter die rug en het hulself goed van hul taak gekwyt,” het Tania Colyn, die departement se woordvoerder, gesê.

Die landloopspan van Mispah-skool vir leerders met spesiale onderrigbehoeftes (LSEN) het onder andere twee atlete opgelewer wat in September 2023 aan die Wes-Kaapse kampioenskap deelgeneem het. Die spanlede het verlede jaar ook by verskillende byeenkomste in die topdrie op die podium – veral in die LSEN-afdeling – geëindig.

Al 10 atlete in die span was ook lid van die Overberg-distrik se landloopspan. Vyf van die 10 leerders is in die Boland-span opgeneem en het aan die Wes-Kaapse kampioenskap deelgeneem. Drie van die skool se landloopatlete is uiteindelik vir die Wes-Kaapse sportvereniging se landloopspan vir leerders met intellektuele gestremdhede gekies.

Abraham Adams, die skoolhoof, het die leerders en hul afrigters met hul besonderse prestasie geluk gewens.

“Ons as Mispah Elsen Skool is besonder trots op die puik prestasie van ons landloopspan wat op provinsiale vlak as wenner in die afdeling ontwikkelende skoolspan van die jaar aangewys is.

“Geluk ook aan hul afrigters meneer Angelo Fisher en juffrou Augusta Klink, wat baie hard gewerk het deur die jaar om hulle aan te spoor om hierdie hoogtes te bereik. Julle is ware ambassadeurs vir Mispah Skool en die gemeenskap van Elim,” het Adams bygevoeg.

Fisher bars behoorlik van trots op sy “ongelooflike, dinamiese landloopspan”.

“Die span se deursettingsvermoë en harde werk spreek boekdele. Vyf atlete in die Boland-span en drie in die Wes-Kaap-span is voorwaar ’n prestasie! Hierdie prys is die vrugte wat hulle pluk.”

Volgens Fisher moes hy en Klink “buite die boks” dink om die atlete topfiks en vir wedlope gereed te kry. Die feit dat die skool nie sy eie sportgeriewe het nie en die dorpsgrond nie geskik en op peil is nie, vertel hy, was die grootste struikelblok.

“Die leerders se ouers kan nie altyd finansieel bydra nie, dus steek ek as afrigter soms my hand baie diep in my sak om vir elke atleet water en Powerade asook inskrywingsgeld vir wedlope te verskaf. Die atlete het ook nie geskikte hardloop-tekkies nie en moet baie keer kaalvoet hardloop op roetes wat wissel van gras tot grondpad. Atlete wat in provinsiale spanne opgeneem word, kort baie geld, dus word geldinsamelings gereeld gehou, maar dit dek nie altyd alles nie en borgskappe is baie skaars. Maar ten spyte van dié struikelblokke, hitte en reën tydens wedlope, het goeie sportmanskap geseëvier en Mispah se vlag wapper hoog.”

Sportmanne en -vroue, afrigters en administrateurs van oor die provinsie heen, wat in hul onderskeie sportsoorte uitgeblink het en verlede jaar as die wenners in hul onderskeie distrikte aangewys is, het onlangs die provinsiale prysuitdeling in Paarl, waar die provinsiale wenners aangewys is, bygewoon. Uitblinkers van die Overberg-jukskeiklub, Legacy Martial Arts Academy en Mignon van Zyl – wat by die Overberg-distrik se sport-prysuitdeling as die junior sportvrou van die jaar gekroon is – het ook die geleentheid bygewoon.

Die provinsiale wenners dring nou deur na die nasionale sport-prysuitdeling.

Die Wes-Kaapse minister van sport en kultuur, Ricardo Mackenzie, het al die wenners sowel as die ander finaliste met hul prestasies geluk gewens.. Enigiemand wat die landloopspan met skenkings wil help, kan die skool in kantoorure by 028 482 1810 kontak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.