’n Werksessie oor demensie asook versorger-opleiding word Donderdag 19 Mei deur Heidehof-tehuis vir bejaardes aangebied.
Esther Möller, uitvoerende hoof van Heidehof, sê: “Die groeiende voorkoms van demensie in ons samelewing noop ons om die algemene stigmatisering en wanopvattings van hierdie siektetoestand met hierdie soort bewusmakingsaksies die hoof te bied en sodoende meer empatie te wek.
“ ’n Groter bewustheid oor die voorkoms en invloed van demensie in ons huishoudings, asook bemagtiging met kennis en praktiese wenke vir mense by wie demensie gediagnoseer is, sowel as hul families en direkte steunstelsels, is die hoofdoel van hierdie werksessie.”
’n Interaktiewe werksessie met verskeie kundige sprekers word beplan om verskeie aspekte rakende demensie op holistiese wyse met die gehoor te deel.
Die sessie sal in die kerksaal van die Caledon Moedergemeente aangebied word.
Vir besprekings en navrae, bel Suedene Alexander of Christelle Vosloo by 028 214 1755 of stuur e-pos na admin.heidehof@twk.co.za