Groot opgewondenheid het Donderdag 15 November onder leerders van Botrivier Primêr geheers toe Avbob en Oxford University Press van Suid-Afrika ’n trollie-biblioteek aan die skool oorhandig het.
Dié biblioteek ter waarde van R65 000 is deel van Avbob se Road to Literacy-inisiatief wat nou die derde agtereenvolgende jaar aangebied word.
Dié inisiatief is ontwikkel met net een doel voor oë – om die geletterdheidsvlakke van die Suid-Afrikaanse jeug deur lees te verbeter.
“Die inisiatief het in 2022 begin deur 180 trollie-biblioteke en 77 400 boeke aan skole te skenk. Hierdie projek het in 2023 tot 260 biblioteke en 130 000 boeke uitgebrei, en ons het nou in 2024 al 500 trollie-biblioteke en 250 000 boeke aan skole geskenk,” het ’n woordvoerder van Avbob gesê.
Elke trollie-biblioteek bevat 500 splinternuwe boeke as deel van die kurrikulum en wat vir die leerders tot voordeel sal wees.
Een van die onderwysers by die skool het dit aan die kinders duidelik gestel dat die boeke só hanteer moet word dat ander ná jou ook die boek kan geniet. “Die boeke is nie daar om op koffie of tee te drink nie,” het hy beklemtoon.
Een van Avbob se verteenwoordigers het die waarde van lees aan die kinders verduidelik en vertel om te lees verbreed nie net jou kennis nie, maar help jou ook om jou drome te verwesenlik. “[Dit] maak nie saak hoe gering jy is of voel nie – deur te lees, kan jy jou wêreld groter maak,” het hy gesê.
Een van die klasse het ook die skoollied gesing terwyl die verrigtinge met ’n dansitem afgesluit is.