Swartberg Primêr in Caledon het onlangs ‘n skenking van 10 fietse ontvang. Dié skenking is deel van die Wes-Kaapse regering se provinsiale volhoubaarheidsprogram, wat onder meer niegemotoriseerde vervoer bevorder. Die skenking is gefasiliteer deur die departement van mobiliteit, in vennootskap met Bicycling Empowerment Network SA en die Trapkragvereniging.
Die skoolhoof, Chris Delport, sê: “Die fietse is geskenk aan leerders wat nie van busvervoer gebruik kan maak nie, maar binne ‘n vyfkilometerradius van die skool af woon. Die department het ‘n veiligheidsaanbieding gedoen om verantwoordelike en selfversekerde fietrygebruik te bevorder, maar ons het besef dat nie almal kan fietsry nie, dus gaan ons hulle leer en touwys maak en weer die veiligheidsmaatreëls, die gebruik van handtekens asook die herstel en versorging van die fietse by hulle tuisbring.”
Saam met die fietse het elkeen ook ‘n rugsak met ‘n fietsryhelm en ander bybehore ontvang. Die leerders wat fietse ontvang het, het aan Hermanus Times genoem dat hulle baie opgewonde en gelukkig is oor die fietse.


