Die geliefde en gerespekteerde oudonderwyser Vernie de Bruyn is Saterdag 9 Maart in die ouderdom van 81 oorlede.

Vincent Rudolph de Bruyn is op 20 Desember 1942 in Caledon gebore. Nadat hy gematrikuleer het, het hy aan die Hewat-onderwyskollege studeer.

Sy eerste pos was by die Laerskool Oude Brug in Grabouw, waar hy vir sewe jaar onderrig het. Daarna is hy na Swartberg Primêr in Caledon, waar hy tot met sy aftrede in 1996 wiskunde en Engels onderrig het. De Bruyn het ná sy aftrede by Old Mutual gewerk.

Dat uncle Vernie, soos hy alombekend was, ’n baie groot invloed op al sy leerders gehad het, is duidelik uit die talle huldeblyke waar voormalige leerders hom as Meester Vernie aangespreek het.

Melanie de Bruyn Hartzenberg, uncle Vernie se dogter, vertel aan Hermanus Times: “My pa was baie geliefd onder leerders en het ’n groot invloed op hulle gehad. Dis dié dat sy oudleerders nou nog van hom as Meester Vernie of Mister Vernie praat. Hy was baie lief vir kinders en het altyd probeer om elke kind te bemoedig om sy of haar beste te lewer, en het altyd gesê ons moet nie ophou bid vir die kinders nie.”

Uncle Vernie was baie lief vir sport – hy was ’n tennis- en atletiekafrigter by die skool – en was ’n kranige gholfspeler wat nou betrokke was by die Caledon-gholfklub. Hy was ook lief vir visvang en het dikwels gaan stap, veral in die Caledon-veldblommetuin.

“My pa was old school,” sê Melanie. “Hy was altyd netjies aangetrek, selfs wanneer hy net gou dorp toe gegaan het vir inkopies, waar hy ook altyd vriendelike geselsies met mense aangeknoop het. Hy was ’n gentleman.”

Een van uncle Vernie se grootste plesiere was om met sy kleinkinders te sit en gesels en om op sy rustige manier lewenswyshede aan hulle oor te dra.

“My pa kon goed toesprake hou. Hy het letterlik dae en nagte aan dié toesprake geskryf. Hy het altyd ’n staaltjie of twee ingewerk en het altyd die menswees oor die persoon oor wie hy gepraat het, uitgelig,” se Melanie. “My pa was die prater in die huis en die stilte is nou oorweldigend.”

Melanie noem dat haar pa ’n nederige en dankbare mens was. “Hy was uit en uit ’n gemeenskapsmens en het altyd gaan troos as daar siekte of dood in die gemeenskap was,” sê Melanie. “Hy het my ook geleer om nooit moed op te gee nie en dat dit oukei is om te misluk en om weer te probeer.”

Uncle Vernie word oorleef deur sy dogter, seun André en vier kleinkinders. Sy vrou, Jean, met wie hy in 1969 getrou het, het hom jare gelede ontval.

’n Roudiens is Donderdag 14 Maart in die Holy Trinity-kerk gehou en die begrafnisdiens is Saterdag 16 Maart in die Swartberg Primêr-skoolsaal gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.