Hermanus se goue seun het dit weer gedoen . . .

Die Springbokkeurders het die oudleerder van die Hoërskool Hermanus Leolin Zas vroeër verlede week genooi om hom by die SA A-span aan te sluit – dit is die tweede keer dat dié eer hom te beurt val.

Die 26-jarige vleuel van die Stormers kon dit nie glo toe die Springbok­keurders hom vir die Spring­boktoer in Europa nader nie. Hy, Elrigh Louw en JJ Kotzé, het hulle Sondag by die SA A-span aangesluit.

Leolin het vanjaar sy stempel behoorlik afgedruk en ná ’n teleurstellende tyd by die Haaie verdien een van die voorste driedrukkers in die Verenigde Rugby­kampioenskap (VRK) dié uitnodiging om die Groen-en-Goud met trots te dra.

Leolin het in Mei vanjaar aan Netwerk24 gesê hy is geëerd om die voorste driedrukker in die VRK te wees. Hy het in Mei in 18 ligawedstryde 11 keer agter die pale gaan kuier.

Dié rugbyspeler wat in 2016 een van Suid-Afrika se belowende jong talent was, se loopbaan was amper aan skerwe toe hy in 2017 twee beentjies in sy been gebreek het. Maar Leolin het vir almal gewys van watter stoffasie hy gemaak is en ses jaar later is hy nie net ’n puntemasjien nie, maar gaan hy ook weer die Groen-en-Goud met trots dra.

“Die gevoel wat ek beleef het toe ek die boodskap kry dat ek in die span is, is iets wat ek nie kan beskryf nie – dis ’n droom wat waar geword het. Nadat boodskappe van familie en vriende ingestroom het, het ek besef dat mense in my glo en dis waarom ek die game speel,” het hy aan Hermanus Times gesê.

Sy skoolbreier wat hom vir drie jaar afgerig het, Neil du Toit van die Hoërskool Hermanus, vertel: “Ek het Leolin drie jaar afgerig en toe hy nog proewe vir Boland gespeel het, het ek gesien hierdie seun gaan dit nog ver bring. Die bewe­ging wat my dadelik laat besef dat hy talentvol is, is toe hy heelagter gespeel het en volspoed die bal onder beheer gebring het en dit het tot punte gelei.”

Du Toit vertel verder Leolin is een van die hardwerkendste jong mense wat hy in sy lewe teëgekom het. “Hy is nederig, ’n mensemens en weet wat hy in die lewe wil hê. Hy is vasberade en toegewyd om net die hoogste prestasie in rugby te behaal. Nie eens beserings of ’n negatiewe tyd kon sy gees om te presteer, blus nie”.

Leolin het, ten spyte van terugslae, gewys dat hy bo sy omstandighede kan uit­styg. Hy het sy ma op ’n jong ouderdom verloor en het besluit om sy hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Hermanus te voltooi.

In Hermanus het hy by Gaynor en Ivano de Kosta gebly en hulle het hom soos hul eie behandel. Gaynor vertel trots dat hierdie “seun” van haar, haar trots maak. “Leolin is sag en nederig. Hy was ook baie skaam en het gestap waar hy wil wees. Ek kan met trots sê dat Leolin niks verander het nie, sy sukses het nie na sy kop toe gegaan nie.”

Leolin vertel dat hy deesdae nie baie vrye tyd het nie aangesien rugby sy lewe tans oorheers. “As ek ’n bietjie tyd het, dan is daar niks lekkerder vir my as om saam met my vriende en familie te braai nie,” vertel hy. Sy raad aan ander jong opkomende sportmanne en -vroue is: “Moet nooit moed opgee nie al lyk dinge hoe onmoontlik. Glo in jouself en glo in God. Bring ook tyd deur saam met mense wat in jou glo en jou uplift,” sluit hy af. . Môre (Donderdag) om 21:30 speel die SA A-span teen Munster.

You need to be Logged In to leave a comment.