Die toekoms van ’n volhoubare landbousektor is afhanklik van nuwe inligting, tegnologiese vooruitgang en ’n generasie landbouers en jeugdiges met toepaslike vaardighede en kwalifikasies om by die groot verskeidenheid van beroepe wat aan landbou verwant is betrokke te raak.
Nampo Kaap skep geleenthede vir die jeug om nie net die toekoms van landbou raak te sien nie, maar om ook aktief betrokke te raak deur middel van die Overberg-streekjeugskou en die Nampo Kaap-landbouskoleprogram en sodoende ’n liefde vir landbou te kweek.
Die Overberg-streekjeugskou-kompetisie vind Saterdag 14 September plaas. Deelnemers verdien punte by streekskoue, soos dié wat tydens Nampo Kaap plaasvind om vir die Wes-Kaapse Jeugskoukampioenskap te kwalifiseer. Tydens die WP-kampioenskap word ’n span gekies om aan die Nasionale Jeugskou-kampioenskap deel te neem.
Seuns en meisies tot 17 jaar kan aan die Jeugskou-kompetisies deelneem. Die 15 afdelings wat aangebied word, is: melk- en vleisbeeste; wol- en vleisskape; Angora-, vleis- en melkbokke; pluimvee; perde; duiwe; konyne; jong afslaers; kulinêre kuns; suiwelbereiding en ’n nuwe afdeling, fotografie.
“Ons is dankbaar vir die borgskappe van Neptun, BKB, Hollard, die Wes-Kaapse departement van landbou, Voermol, ARDS, Agri Expo en Varsmark-Bredasdorp vir hul ondersteuning,” sê Madeline Kriel, ko?rdineerder van die Overberg-streekjeugskou.
Volgens Henk Aggenbach, voorsitter van die Bredasdorp Park- direksie, is alle moontlike maatreëls daargestel om die verspreiding van bek-en-klouseer te voorkom tydens Nampo Kaap.
“Volledige protokolle is daargestel en ’n span, onder leiding van die staatsveearts, sal alle diere by aankoms ondersoek en geen diere sal op die terrein toegelaat word sonder die nodige dokumentasie vir die vervoer van lewende hawe nie.”
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Augustus. Om in te skryf, kontak Madeline Kriel by madelinekriel894@gmail.com of 071 280 0239.