Al het sy baie teenkanting gekry, het sy deurgedruk en geglo haar liggie-projek kan ’n aanwins vir Hermanus wees. En ry jy deur die strate van Hermanus, verwelkom die mooiste onderwater-tonele jou.
René Hartslief, wie se geesteskind die langtafel-etes in die Overberg is, het in Maart die idee gekry om mense na Hermanus te lok deur die dorp met liggies op te vrolik. “Die Stanford-liggies was vir my ’n inspirasie en ek het geglo so iets vir Hermanus kan ook moontlik wees. Ek het Jannie de Wet van Shopping Centre Design in Maart gekontak. Hulle was in beheer van die liggies in Stanford ook,” vertel sy. “ In April het ek saam met verteenwoordigers van die Overstrand-munisipaliteit ’n vergadering met Jannie gehad en so is die ‘Underwater Magic Festive Lights’ gebore.”
Sy het behoorlik navorsing gedoen oor hoeveel diere in die see voorkom en het vir Jannie meer as 400 illustrasies gestuur, waarna hy voorbeelde saamgestel het. “Ons het behoorlik heen en weer gekommunikeer en seker meer as 1 000 e-posse aan mekaar en borge gestuur. Ons het dit reggekry om ’n bedrag in te samel wat alles in Shopping Centre Design se rekening betaal is, en so het ons reis begin.”
René sê hulle het eers voorbeelde vir die borge gestuur om hul goedkeuring te kry voordat hulle voortgegaan het met die projek. “Ek werk nou al sewe maande aan die projek, en as ek my oë toemaak, droom ek van hoe ek dit ’n werklikheid kan maak. As ek soggens opstaan, soek ek weer borge om my droom te verwesenlik.
“Die droom sou nie sonder die Overstrand-munisipaliteit en Shopping Centre Design bewaarheid kon word nie en ek wil ook graag al die borge bedank vir dit wat hulle vir die dorp beteken,” het sy gesê.
Die ligte is in verskillende fases geïnstalleer met fase vier wat nou in aanvang is. “Ons het nog 24 motiewe wat ons op lamppale wil aanbring en vra die publiek om ons te help om Hermanus die liggie-dorp van Suid-Afrika te maak.”. Vir nog inligting of om meer oor die projek uit te vind, bel René by 083 648 8700.




