“Van ons kant af gaan ons ’n geen-verdraagsaamheid-benadering volg wanneer dit by die veiligheid van ons inwoners kom. Die benadering is gegrond op die feit dat ons alle soorte misdrywe die stryd gaan aansê. Ons wil nie deur die wette afdwing, net mense straf nie, maar ons wil veiligheid vir almal daarstel,” het Neville Michaels, die direkteur van beskermingsdienste, gesê.
Brig. Donovan Heilbron van die Overberg-polisiekluster het ook benadruk dat Hermanus nie “te sag” op immigrante moet wees nie. “Ons moet die wette afdwing, al is die inwoners nie Suid-Afrikaanse burgers nie. Wat vir ons almal geld, moet vir hulle ook geld. Ons moet die wette konsekwent afdwing.”
Hy het verder sy bekommernis rakende die taxi-geweld in die Kaap uitgespreek en gesê hy is bang dit sal na Hermanus oorspoel. “Ons moet waaksaam wees en dinge soos dwelmhuise en onwettige wapens die hoof bied.”
Dr. Annelie Rabie, die burgemeester van die Overstrand-munisipaliteit, het trots gesê sy gee haar volle steun aan dié operasie. “Dit is tyd dat ons almal moet saamstaan en die stryd aanpak. Ruk jouself reg en lewe volgens die wette. Daar is te veel van ons wat ’n blinde oog teen misdaad draai. As ons saamstaan, kan ons die brug oorsteek,” het sy gesê.
Die program is afgesluit met een van die wetstoepassers, Elton Nkanunu, wat die bekende “Nessum Dorma” sonder begeleiding gesing het.
Ná die bekendstelling het die span deur die strate van Zwelihle geloop om wetstoepassing toe te pas.